Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Danie Marais: Simon praat in 2016 harder as Dylan
Foto:

Bob Dylan – Fallen Angels (* * *) vs. Paul Simon – Stranger to Stranger (* * * *)

Paul Simon en Bob Dylan is lewende legendes. Dít wil niemand betwis nie. Oor wie die grootste sanger-liedjieskrywer van die 60’s is, word egter graag gestry.

Tot die ambisieuse Simon se bitter frustrasie, kom hy gewoonlik duidelik tweede. Met die uitreiking van sy vorige merkwaardige album, So Beautiful or So What (2011), het hy daaroor gekla in ’n onderhoud met die Rolling Stone-musiektydskrif. Hy sê hy moes intussen noodgedwonge vrede maak met sy stem: “Een van die leemtes in my mondering is my opregte stem. Ek het al probeer ironies klink, maar ek kan nie. Alles wat Dylan sing, het twee betekenisse. Hy vertel jou die waarheid en spot met jou tegelyk. Ek klink opreg, elke keer.”

En nou het sowel Simon, wat in Oktober vanjaar 75 word, as Dylan, wat in Mei 75 geslaan het, binne twee weke van mekaar ’n nuwe album uitgereik. Die ironie is egter dié keer dat Simon se jongste, Stranger to Stranger, veel meer kultureel relevant klink as mnr. Zimmerman se nuwe een, Fallen Angels.

Dalk is dit ook juis tipies vir die immerdwars Dylan om in dieselfde jaar waarin sy seminale Blonde on Blonde, ’n album waarmee hy die horisonne van rock digterlik verbreed het, 50 word, ’n plaat uit te reik waarop hy skynbaar droomverlore ou bekendes uit die pre-rock-era van die sogenaamde Great ­American Songbook sing. Fallen Angels is dus basies (More) Shad­ows in the Night.

Dié 12 snitte is immers opgeneem met dieselfde musikante gedurende dieselfde sessies wat geëindig het in Dylan se strelende dog aweregse Sinatra-huldeblyk, Shadows in the Night (2015). Op Fallen Angels is dit slegs Hoagy Car­michael en Johnny Mercer se “Skylark” wat nie ook deur Sinatra opgeneem is nie. Dylan hou weer sy lyf crooner en jy kry mettertyd die indruk jy luister na ’n outoppie wat nes Dylan klink en op sy eiesinnige country-folkerige manier ou liedjies vertolk sonder om juis om te gee wie luister.

Fallen Angels is daarom ideale agtergrondmusiek vir skemerkelkies of aandete, terwyl Simon se jongste, Stranger to Stranger, dadelik boei. Dit steur ook nie dat Simon gewoon intiem en opreg na homself klink nie, want hier luister jy na dieselfde ou Simon vasgevang in die vreemde ritmes van ’n selfs vreemder tyd. Soos hy dit stel op die karnavaleske, Kreoolse maat van “In a Parade”: “Tonight it feels like every wounded soul / Is filling out a form or on the ’phone / I can’t talk now, I’m in a parade.”

En dit is vindingryke ritmes eerder as die onmiddellik aansteeklike melodieë waarvoor hy so bekend is, waarmee Simon by uitstek op sy jongste beïndruk. 50 jaar nadat sy “The Sound of Silence” ’n nommer een-treffer vir hom en Art Garfunkel in Amerika was, het hy met die gebruik van die avantgarde-komponis en instrumentbouer Harry Partch se ontwerpsels, onder meer die Chromelodeon en Cloud-Chamber Bowls, 11 avontuurlustige snitte vol verrassings geskep wat hard en sag praat met die omgekrapte warboel van die hede én sy eie musikale verlede.

Die grootste profeet van die 60’s bly Dylan, maar in die jaar 2016 het Simon ’n groter bydrae tot die musikale gesprek rondom die kontemporêre menslike toestand gelewer – dalk juis omdat hy eerder na een van ons opreg medesukkelendes as ’n profeet klink. Daarom maak die moontlik profetiese laaste strofe van Simon se skitterend satiriese “Wristband” jou ekstra benoud: “The riots started slowly with the homeless and the lowly / Then they spread into the heartland towns that never get a wristband / Kids that can’t afford the cool brand whose anger is a short-hand / For you’ll never get a wristband and if you don’t have a wristband then you can’t get through the door.”

Fallen Angels laat net my gedagtes gemoedelik dwaal en ’n mens is tog nie veronderstel om ’n nuwe Dylan-album as stylvolle agtergrondmusiek in te span nie?

“Young at Heart”

“All or Nothing at All”

“That Old Black Magic”

Topsnitte (Stranger to ­Stranger):

“The Werewolf”

“Wristband”

“Stranger to Stranger”

Meer oor:  Paul Simon  |  Danie Marais  |  Bob Dylan  |  Byklanke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.