Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Daniël-blyspel in Israel moet ‘vloek oor SA verbreek’

’n Groep Suid-Afrikaanse kunstenaars voer tans ’n musiekblyspel onder leiding van die gospelsanger Joe Niemand in Jerusalem op met die doel om ’n “vloek oor Suid-Afrika” oor die land se vyandige houding teenoor Israel te verbreek.

Daniel the Musical, ’n musiekblyspel wat geskoei is op die Ou Testamentiese Daniël, word tans in die Jerusalem-teater in Israel opgevoer. Van links is André Terblanche, Joe Niemand, Ferdi Gernandt en Marno van der Merwe. Foto: Verskaf

Daniel the Musical, geskoei op die Ou Testament se Daniël, spog met ’n Afrika-geur om ’n “kreatiewe brug” tussen die twee lande te bou.

Die reaksie daarop met die première verlede Donderdag was oorweldigend, sê Niemand.

“Ons het deur die hele proses onder soveel druk gewerk. Toe die gordyn sak, was die staande toejuiging so onwerklik. Ons het gekom om hulle te seën en vir die gehoor om só te reageer was vir ons ’n groot seën!”

Hy glo Suid-Afrika dra ’n vloek weens die land se vyandigheid teenoor Israel.

“Die Woord sê hulle wat Israel seën, sal geseën word, en hulle wat Israel vervloek, sal vervloek word.” Die Suid-Afrikaanse regering, sê hy, volg ’n baie aggressiewe benadering teenoor Israel.

“Soveel so dat nét Iran by die VN as meer vyandig teenoor Israel beskou word.

“Dit gaan nie oor politiek nie. As ons na ons land kyk, is dit moeilik om te stry met die feit dat daar ’n vloek oor ons is, met al die moord en doodslag wat heers. Dit is nie normaal nie.”

Deur die loop van die paar maande voordat hulle die blyspel na Israel geneem het, het die Here vir hom gewys Suid-Afrika val onder daardie vervloeking “omdat ons hierdie belofte van God teen onsself geaktiveer het”.

“Ek glo ’n deel van wat die Here doen, is om ons as kunstenaars hierheen te stuur om in Sy Naam daardie vloek te verbreek.”

Hy het in ’n telefoniese onderhoud met Netwerk24 gesê in die Bybelse tyd het die Here ook die musikante eerste ingestuur.

“Dit is wat ek glo. Ons is hier om die vele Suid-Afrikaners te verteenwoordig wat Israel wil seën en die Woord van God ernstig opneem oor die implikasies daarvan.”

Die Woord sê hulle wat Israel seën, sal geseën word, en hulle wat Israel vervloek, sal vervloek word.

Behalwe vir die visie om Daniel in Jerusalem op te voer, het hy ook ervaar dat hy gelei word dat dit in Oktober 2019 moet plaasvind.

“Ek het in Mei hierheen gevlieg nadat die Jerusalem-teater my laat weet het hulle is tot 2021 vol.”

Hy wou hulle egter steeds oor Oktober spreek, maar moes toe hoor dat bouwerk van Julie tot einde Oktober sou plaasvind. Hy het op ’n wonderwerk staatgemaak.

“Die teater het ons aan die begin van ons voorlaaste week van repetisies laat weet dit lyk of hulle wel klaar kan wees teen die tyd wat ons moes ‘intrek’. Teen daardie tyd moes ons stel al op ’n skip gewees het.”

Hy sê verskeie onmoontlikhede het in die afgelope vier maande gebeur.

“En dit gebeur steeds vir ons om vorentoe te kan gaan. Ons is hier en dit gebeur. Wat ’n voorreg om die wonderwerk te kon sien groei van niks nie tot wat dit nou is.

“Die totale fokus was om net elke dag die Here se leiding tree vir tree te volg. Ons kon nie ook nog dink oor wat dalk volgende kan gebeur nie.”

Meer oor:  Jerusalem  |  Vloek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.