Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Dank jou sterre en maan vir iemand soos June
Valerie June Foto: Getty Images

Sy is een van Michelle Obama se groot gunstelinge, selfs Bob Dylan dink haar musiek is goed. Haar naam is Valery June en sy moet eintlik ’n superster wees, meen Danie Marais.

Valerie June – The Moon and Stars: Prescriptions for Dreaming (* * * *)

Te oordeel aan haar wêreldberoemde aanhangers, verdien Valerie June om ’n superster te wees. Sy is een van Michelle Obama se gunsteling-sanger-liedjieskrywers en sy het haar solo-deurbraak van ’n derde album, Pushing Against a Stone(2013), opgeneem onder musiekregie van The Black Keys se Dan Auerbach, wat ook saam met haar liedjies vir dié album geskryf het.

Bob Dylan, wat selde beïndruk word, het haar met die uitreiking van haar vorige album, The Order of Time (2017), bestempel as een van die min nuwe kunstenaars vir wie hy groot agting en waardering het. June se vriendin Norah Jones het agtergrondsang tot laasgenoemde bygedra.

Om die bewondering van dié groot geeste te verstaan, hoef jy net een keer in aanraking te kom met June se stem in ’n liedjie soos “Astral Plane”. Sy vat aan jou hart soos maanskyn en skemer met ’n mengsel van Tracy Chapman en Macy Gray wat haar na ’n mistieke vroulike inkarnasie van Van Morrison laat klink.

En tog het June nog nooit groot kommersiële sukses behaal nie. Die rede daarvoor is waarskynlik dat sy van ’n eklektiese klankpalet van genres bedien wat sy as “organic moonshine roots music” bestempel.

Haar liedjies klink so min met kontemporêre musiekmodes begaan as ’n ou wilgerboom langs ’n oerstroom met die nuus om sewe. Volgens haar is Appalachiese folk, country-soul, blues-rock en gospel egter nie style wat haar definieer nie, maar die kleure waarmee sy skilder.

June sê toe sy klein was, het sy gedink ’n sangeres moet klink soos Whitney Houston of Aretha Franklin, maar mettertyd het sy besef ’n stem is ’n eiesinnige karakter en ’n magtige anderwêreldse teenwoordigheid: “Soggens klink ek soos ’n man en in die aand so lig soos ’n kind.”

June sê toe sy klein was, het sy gedink ’n sangeres moet klink soos Whitney Houston of Aretha Franklin, maar mettertyd het sy besef ’n stem is ’n eiesinnige karakter en ’n magtige anderwêreldse teenwoordigheid: “Soggens klink ek soos ’n man en in die aand so lig soos ’n kind.”

Wanneer jy luister na June se weergawe van T. Rex se “Cosmic Dancer”, wat sy in 2019 uitgereik het, moet jy met haar saamstem. Sy klink of sy gebore is om ’n plaat te maak met ’n titel soos dié van haar jongste: The Moon and Stars: Prescriptions for Dreaming.

Tye was nog altyd moeilike tye vir dromers, maar 2021 is ’n besonder vreemde jaar om ’n konsep-album oor die kosmiese noodsaak van drome uit te reik. Aan die feit dat sy uit Jackson, Tennessee, tot die lewe van ’n weerbarstige utopiese dromer geroepe is, twyfel June egter hoegenaamd nie.

Die uitstaande “Call Me a Fool” word ingelei deur ’n ou gesegde: “Only a fool tests the depth of the water with both feet,” maar net daarna verklaar June met behulp van die bejaarde koningin van Memphis-soul, Carla Thomas, dat sy ’n dwaas vir die liefde is en sal bly.

Die klank van haar nuwe plaat onder die musiekregie van Jack Splash (bekend om sy werk met Alicia Keys, Kendrick Lamar en John Legend) is voller met ’n ryk verskeidenheid strykers en koperblasers wat swier en kleur gee aan die jazzerige pop-rock van “You and I” en die Afro-folk van “Stardust Scattering”.

Maar te midde van hierdie sofistikasie en die nuwe elemente van RnB en trap-klanke waarmee June haar nuweling geur, bly haar soepel stem die middelpunt van haar voedoe.

Geen sinisme is daarteen bestand nie. Sy wieg jou weg na ’n ander, sagter wêreld met die gestroopte folk van “Fallin”. Met die eina-mooi country-soul van “Two Roads” kry sy dit reg om net soveel dankbaarheid vir die moeilike weg wat sy gekies het, uit te sing as berou oor die pad wat sy nooit gaan ervaar nie. In die oorrompelende “Why the Bright Stars Glow” laat sy “I” na die eensaamste woord op aarde klink en “you and me” na die enigste oplossing.

’n Mens dank dus jou maan en sterre in ’n strompel-strompeljaar soos dié vir die warm geskenk van Valerie June se beste album tot nog toe.

Top-snitte:

“Stay”

“Call Me a Fool”

“Fallin’ ”

“Two Roads”

“Why the Bright Stars Glow”

Meer oor:  Michelle Obama  |  Danie Marais  |  Bob Dylan  |  Valerie June  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.