Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Darren en Soweto Gospel Choir stel album bekend

Al het Kurt Darren en die Soweto Gospel Choir al verskeie kere saam opgetree, het hulle nou eers saam ’n album opgeneem. Een van hul gesamentlike optredes wat uitstaan, is die 46664-konsert in Londen se Hyde Park ter viering van oudpres. Nelson Mandela se 90ste verjaardag in 2008.

Kurt Darren en die Soweto Gospel Choir

Na aanleiding hiervan het hulle dit goed gedink om The South African Songbook eerskomende Vrydag – op die vooraand van Mandela se verjaardag – bekend te stel.

Twee eg Suid-Afrikaanse liedere, “My African Dream” en Brenda Fassie se “Vulindlela”, lei die CD in, wat volgens die sangers op hoop gebou is. Dit spruit uit die lied “Gimme Hope Jo’Anna” wat hulle in die Londen-konsert gesing het.

Nertia Mofokeng van die Soweto Gospel Choir sê die keuse van die liedere op die album is om hoop te gee in die ongekende tyd waarin die koronavirus-pandemie ons gedompel het. En wanneer dit verby is, sal dit as oorwinningsmusiek dien.

Van die liedere op die album is so inheems as kan kom – “The Lion Sleeps Tonight”, die proteslied “Weeping”, “Jabulani” van PJ Powers en natuurlik “Pata Pata, want wat is ’n Suid-Afrikaanse versameling sonder dié wêreldbekende liedjie van Miriam Makeba?

Twee emosionele hoogtepunte waarop gewys word, is “Impi” van Juluka waarvan die ontslape Johnny Clegg ’n lid was, en die tradisionele “Shosholoza”. Dié lied verskyn op die Soweto Gospel Choir se album African Spirit, waarvoor hulle in 2007 ’n Grammy vir die beste tradisionele wêreldmusiekalbum ontvang het.

Darren druk sy persoonlike stempel op die album af met “Loslappie” en Koos du Plessis se immergewilde “Kinders van die Wind” en “Gebed”, wat hy solo sing. Ook op die album is “Special Star” van Mango Groove met die skrywer van die lied, Mduduzi Magwaza, wat op die penniefluitjie gehoor kan word.

Die uitgewer Sony Select Music noem die album ’n klankryke liefdesbrief aan Suid-Afrikaanse kunstenaarskap, terwyl Darren se boodskap is dat ons moet kies om die pad in die land saam te stap. Dit is wat die woorde van “Ndihamba Nawe” beteken, ’n lied wat hy en die koor al voorheen saam gesing het en nuut vir die opname verwerk is.

Meer oor:  Soweto Gospel Choir  |  Kurt Darren  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.