Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
David Berman se besielde werk kon hom helaas nie red

Al was sy laaste album ’n besielde werk, het die kultusheld David Berman verlede maand sy eie lewe geneem. Danie Marais skryf oor sy laaste werk, Purple Mountains.

Purple Mountains (* * * *)

Die omslag van Purple Mountains.

“Die eerste ding wat skryfwerk moet doen, is om jou eie bas te red. As dit daarin slaag, is dit outomaties boeiend,” het die beat-digter Charles Bukowksi naby aan die einde van sy lewe in ’n joernaal geskryf.

Purple Mountains is ’n plaat wat sonder twyfel met daardie koorsige noodsaak gemaak is, maar dit kon helaas nie die kultusheld David Berman uit die put van depressie trek nie.

Berman, wat ook twee digbundels gepubliseer het, was hoofsaaklik bekend as die medestigter van die countryrock-groep Silver Jews, wat hy in 2009 ontbind het.

Ná ’n dekade van stilte het hy weer ’n plaat gemaak as hoofsanger-liedjieskrywer-sameroeper van ’n nuwe groep – Purple Mountains, ’n ironiese verwysing na die “purple mountains” in die lirieke van “America the Beautiful”.

Maar op die ouderdom van 52 op 7 Augustus vanjaar, minder as ’n maand nadat sy uitstekende comeback-album uitgereik is en net voordat hy op 10 Augustus op ’n konserttoer deur Noord-Amerika sou vertrek, het Berman homself opgehang.

Nou is dit moeilik om nie na die tien trefseker snitte op Purple Mountains te luister sonder om fatale desperaatheid in die lirieke te hoor nie. Berman bely reeds ’n treurige stand van sake aan die begin van die eerste snit op die maat van uitgelate country-rock, wat aan Dylan en The Band op volle vaart herinner:

Well, I don’t like talkin’ to myself

But someone’s gotta say it, hell

I mean, things have not been going well

This time I think I finally f**ked myself

You see, the life I live is sickening

I spent a decade playing chicken with oblivion

Maar dit sou nie regverdig wees om sy swanesang as een lang afskeidsbrief te lees nie. Toe Berman in ’n onderhoud gevra is hoekom hy ’n groep met ’n nuwe naam begin het, het hy geantwoord: “Om my lewe te verander. Dit sal so goed wees om weer hoop te hê.”

Voor sy dood het ek dan ook hierdie plaat verstaan as ’n rou, selfbeswerende siklus van lewensnood, hartseer oor die verlies van ’n ma en ineenstorting, maar dan herstel en tentatiewe nuwe moed. Dis immers ’n album deurtrek van self-ironie en sardoniese humor wat eindig met: “I’ll have to learn to like myself / Maybe I’m the only one for me”. Oor sy nuwe liedjies het Berman gesê: “Dis nie ’n kreet om hulp nie, maar ’n poging om van hulp te wees.”

Nou is dit egter hartverskeurend om te luister na “Snow Is Falling in Manhattan” met die wete dat hy in Brooklyn, New York, finaal moed verloor en ’n einde gemaak het:

Songs build little rooms in time

And housed within the song’s design

Is the ghost the host has left behind

To greet and sweep the guest inside

Stoke the fire and sing his lines

Ook “Darkness and Cold” is verpletterend: “Darkness and cold / Rolled in through the holes in the stories I told”.

Die hinkepink-skoonheid van “Nights That Won’t Happen” in Berman se gebroke, bebaarde bariton laat jou sidder: “The dead know what they’re doing when they leave this world behind […] All the suffering gets done by the ones we leave behind”

Die hartseerste ironie is dus dat Berman gegroet het met ’n besielde werk wat hom nie kon red nie, maar ’n reddingsboei mag wees vir vele ander drenkelinge. Hierdie klein honky-tonk-digbundel bly jou by soos die innige blik van ’n driebeenbrak met houding.

Dis een van die plate van die jaar en ook een van die beste albums van Berman se merkwaardige anti-loopbaan-loopbaan.

Top-snitte:

  • “That’s Just the Way That I Feel”
  • “All My Happines Is Gone”
  • “Darkness and Cold”
  • “Snow Falling in Manhattan”
  • “Nights That Won’t Happen”
Meer oor:  Rock  |  Musiek  |  Countryrock  |  David Berman  |  Silver Jews  |  Country  |  Purple Mountains
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.