Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Demi L stel duet van hoop spesiaal vir inperking vry

Binne vier dae nadat Demi Lee Moore en Riaan Benadé hul nuwe duet “There Was Jesus” vrygestel het, is dit meer as 200 000 keer op YouTube gekyk en het dit die nr. 1-posisie op Apple iTunes se topverkoperslys behaal.

Demi Lee Moore en Riaan Benadé het spesiaal ’n liedjie vrygestel vir die inperkingstyd om mense te bemoedig. Foto: Willem Botha

Die liedjie is die aand voordat die staat van inperking begin het opgeneem en die musiekvideo is later sommer so vanuit Moore en Benadé en kitaarspeler Floors Oosthuizen se onderskeie huise met selfoonkameras en ’n GoPro opgeneem.

Moore (30) en haar kêrel Barthlo Visagie (25) bring die tyd van inperking saam met hul twee brakke, ’n chihuahua en pommer, by hul huis in Pretoria deur. Dis nou presies ’n jaar gelede dat dié twee saam van die Kaap af Pretoria toe verhuis het. Moore en Visagie het mekaar sewe jaar gelede ontmoet in Visagie se kitaarwinkel toe sy haar heel eerste kitaar gaan koop het. Deesdae is Visagie voltyds Demi Lee se kitaarspeler wanneer sy optree.

“Ek is juis nou baie hard besig om aan my eie vaardighede met die kitaar te werk en tussendeur leer ek myself sommer klavier speel ook. Dis baie makliker om liedjies te skryf as jy dit met ’n klavier kan doen,” sê sy.

“Die honde is natuurlik in hul element oor al die aandag wat hulle nou kry en tussendeur werk ek en Barthlo aan ’n hele paar projekte saam. Ons is gelukkig om ’n ateljee hier by die huis te hê en ons werk baie lekker saam.”

Riaan Benadé. Foto: Willem Botha

Die boodskap van die liedjie kom diep uit haar hart uit en dis nie sommer net nog ’n gewone gospelliedjie wat vinnig opgeneem is nie.

“Ons is almal hier in dieselfde posisie, ons almal gaan deur ’n krisis. Al wat ons nou kan doen, is om saam te staan en op Jesus te vertrou. Daar is altyd hoop in Jesus en as jy veral in hierdie tyd op jouself gaan staatmaak, gaan jy sukkel. Jy is nooit alleen nie, God is altyd met jou,” sê Moore.

Op die vraag of sy nog altyd gelowig is, antwoord sy ’n onomwonde ja.

“Hoe kan ek nié gelowig wees nie? Die Here het al soveel keer ingegryp in my lewe. Hy het my ma en my suster van die dood gered en ek glo regtig in die Here se genade. Soveel goed het al in my lewe gebeur wat ’n klinkklare bewys is van God se teenwoordigheid. Dis veral in hierdie tyd van inperking wat ek weet ons moet net glo daar is ’n groter prentjie en die Here het ’n plan met alles. Ons is nooit alleen nie,” sê sy.

Die naam waaroor almal skielik wonder is Riaan Benadé, die onbekende sanger wat saam met Demi Lee in die nuwe liedjie sing.

Demi Lee Moore.Foto: Willem Botha

Benadé is nie net sag op die oog nie, maar met sy rasperagtige countrystem sing hy ’n mens letterlik in ’n vervoering in.

“Ek het Riaan verlede jaar by Arnold Coleske-hulle ontmoet en die oomblik toe ek hom hoor sing, het ek geweet hierdie ou gaan dit nog groot maak. Ek wou sommer dadelik saam met hom sing en ons eerste liedjie saam, ‘Seven Spanish Angels’ is op my country-album opgeneem,” sê sy.

Moore het maklik in die Jakarandastad aangepas, hoewel sy haar dood verlang na haar ma en sussie aan wie sy baie geheg is.

“Ek bly positief in hierdie inperkingstyd, want ek weet dis moeilik vir almal. Al my konserte is gekanselleer en dit tref ons dubbeld so hard, want as ek nie werk nie, werk Barthlo ook nie. Maar ek raak nie moedeloos nie en tel steeds my seëninge,” sê sy.

* “There Was Jesus” word eksklusief as deel van ’n speellys op musiekstromingsdienste vrygestel en dié amptelike Afrikaans is Groot-speellys, getiteld HOOP, is saamgestel deur dieselfde rolspelers wat die immergewilde Afrikaans is Groot-versamelalbums jaar na jaar vrystel.

“There Was Jesus” kan nóú op die HOOP-speellys geluister word. Vind die speellys hier: https://AfrikaansIsGroot.lnk.to/Hoop

Meer oor:  Demi Lee Moore  |  Musiek  |  Liedjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.