Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Demi Lee: ‘Dit voel beslis soos ’n droom’

Die lewe en loopbaan van die Ghoema-bekroonde sangeres Demi Lee Moore het handomkeer verander nadat sy in die VIA-werklikheidsreeks 'Die Kontrak' as die wenner aangewys is. Sy gesels met Christiaan Boonzaier oor haar droomjaar en hoekom sy ’n nuwe country-album uitreik.

Demi Lee, jy was die wenner in Die Kontrak, jou tweede album het in net tien dae goue status bereik en is verlede jaar met vyf Ghoema-pryse bekroon, én jy sing nou pal op verhoë landwyd. Hoe voel dié nuwe werklikheid?

Dit voel beslis soos ’n droom. Ek glo nie dit sal ooit insink nie. Dis net genade, en ek is elke dag dankbaar dat ek kan doen waarvoor ek lief is.

Wat het jy in die afgelope jaar van jouself as mens én sanger geleer?

Die belangrikste ding is om net jouself en opreg te wees; mense kan sien as jy voorgee. Ek is nog presies dieselfde mens as wat ek was – en dit sal ook nooit verander nie.

Jou derde album, Country, is hier. Hoekom wou jy graag ’n country-album opneem?

Countrymusiek was nog altyd my gunsteling-genre om te sing. Ek luister al vandat ek baie klein was na country, en ek onthou al die stories wat dit vertel. Ek het die laaste tien jaar ook grootliks countrymusiek in al my optredes gesing.

Ons wou op die nuwe album iets spesiaal bymekaarsit, so ek en Arnold Coleske het op ’n country-album met van ons ou en nuwe gunstelinge vir die land pad besluit.

Jy sing heelparty country-gunstelinge op die album, onder meer twee liedjies deur onderskeidelik Dolly Parton en Kris Kristofferson. Was dit moeilik om die liedjies te kies?

Dit was moeilik, omdat ons so baie van country hou en grootliks net daarna luister. Ek het ná al die opnames onthou van nog liedjies wat ons wou doen, maar ons het nie baie tyd gehad nie. Ons het ook maar vir almal se bydraes gevra en wat hulle dink om seker te maak ons die regte liedjies kies. Elke liedjie op die album is spesiaal en is met ’n rede gekies.

Jy sing twee liedjies saam met Steve Hofmeyr. Is dit enigsins intimiderend om met só ’n groot naam te werk? Het jy enigiets by hom geleer?

Dit is altyd wonderlik om met Steve te werk. Ek leer baie by hom, veral hoe hy met sy ondersteuners werk en hoe hy elke persoon spesiaal laat voel. Dit was natuurlik intimiderend, maar hy het my van die begin af gemaklik laat voel.

Het jy enige groot planne vir die nuwe jaar?

Ek is bitter opgewonde oor 2020! My konserte in die eerste helfte van die jaar is reeds vol bespreek, en ek sien baie uit daarna om met hierdie nuwe album deur die land te toer. Ons sien die mooiste plekke en ontmoet die wonderlikste mense wanneer ons toer, en ek is baie geseënd om dit met my kêrel aan te pak.

Ek wil ook graag vanjaar in my optredes kitaar speel, so dit (kitaar) is tans iets wat ek besig is om te leer.

Meer oor:  Musiek  |  Steve Hofmeyr  |  Die Kontrak  |  Via  |  Demi Lee Moore  |  Arnold Coleske  |  Country
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.