Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Devon Hofmeyr spoel mond uit oor ‘aaklige’ Afrikaanse musiek

Devon Hofmeyr, die Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr se seun, het hom onlangs op Facebook uitgelaat oor die gehalte van Afrikaanse musiek en hoe dit volgens hom “agteruitgaan” en tappit is.

Hy het spesifiek verwys na die liedjie “Dames” deur die opkomende kunstenaar Biggy, en “Iziiit?”, die nuwe snit van Irene-Louise van Wyk.

Devon HofmeyrFoto: Facebook

“Ek lees gisteraand ’n post oor iemand wat skryf hoe teleurgesteld hulle is oor die huidige Afrikaanse musiek wat die mark betree. En ek stem 100% saam,” skryf hy.

“Ek gaan nie eens my asem mors op daardie Adriaanus (sic) liedjie nie. Maar tog het die liedjie ‘sukses’ behaal. Het ons bietjie tappit geraak wanneer dit kom by Afrikaanse musiek? Dit lyk vir my so. Die standaard is besig om geskep te word.”

Devon noem die liedjie “Iziiit?” by die naam en sê dit is “aaklig”.

“Miskien verstaan ek die musiekbedryf anders as die meeste mense, maar vir 25 jaar word ek omring met ’n musiek-legende in Suid-Afrika. My eie pa,” skryf Devon.

“Vandag kan ek nie tel hoeveel keer ek daai toppie van my vir ure in ’n studio sien sit het om net die regte Afrikaanse woord te kry om sy liedjie mee te begin nie.

“Ek is jammer. Maar ons Afrikaanse musiek loop seer agteruit. Ek bid elke aand dat ons ouer Afrikaanse kunstenaars nog lank sal lewe,” sê hy.

Die Afrikaanse sangeres Irene-Louise van Wyk.Foto: Facebook

Van Wyk sê haar musiek verskil baie van Steve s’n en is op ’n ander mark gerig.

“Ek wou en wil nog altyd anders wees,” sê sy. “My musiek in sy geheel is ’n bewys daarvan en ek sal aangaan om die goed en fun in die lewe raak te sien. Kom ons drink ’n sjampanje op die genot van die lewe.”

Die verwysing na sjampanje is ’n sinspeling op een van haar liedjies “Sjampanje”.

Marné du Plessis, Van Wyk se bemarkingsbestuurder, beskryf Hofmeyr se uitlatings as “werklik onvanpas en hartseer”.

“Wat het geword van saamstaan en om ander te ondersteun? Devon is groot op die feit dat ons as ’n land moet saamstaan, en dan breek hy ’n ander persoon se werk op sosiale media af met die wete dat dit ander sal aanpor,” sê sy.

Louis van Wyk, Irene-Louise se pa en bestuurder, sê die vergelyking tussen sy dogter en Steve is ’n eer.

“Maar ek wonder of Devon besef sy pa was Irene-Louise se peetpa?” sê hy.

“Ek sal nie sê dat Afrikaanse musiek agteruitgaan nie,” sê Du Plessis. Dit kom weer neer op die feit dat almal ’n mark het en dat mense hulle steeds ondersteun. As Afrikaanse musiek so agteruitgegaan het soos wat daar beweer word, sou sommige kunstenaars nie ’n loopbaan daarvan kon maak nie.”

Du Plessis sê Biggy se “Dames”, waarby die jong en selfs ouer markte aanklank gevind het, is ’n goeie voorbeeld hiervan.

“Dié liedjie se musiekvideo is al meer as twee miljoen keer gekyk op YouTube, en dit was net wat hy nodig gehad het vir sy loopbaan om vlam te vat,” sê sy.

“Kan ons dit nie respekteer en saam met ander geluk vind in hul sukses nie?”

Biggy het nie gereageer op navrae om kommentaar nie, maar het voorheen gesê hy gee nie om as mense grappe maak oor sy liedjie nie.

Biggy, oftewel Adrian Entwistle, het onlangs op Facebook aangekondig dat “Dames” die topposisie ingeneem het op Apple Music Suid-Afrika. Dit is glo die hoogste plek wat enige Afrikaanse liedjie tot nog toe op dié lys beklee het.

Meer oor:  Devon Hofmeyr  |  Steve Hofmeyr  |  Vermaak  |  Afrikaanse Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.