Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Diamond, Moolman se duokonsert 1ste, maar nie laaste

’n Duokonsert deur die violis Samson Diamond en altviolis Jeanne-Louise Moolman is ’n eerste, maar beslis nie die laaste nie.

Jeanne-Louise Moolman en Samson Diamond.

“Ons beplan nog uitvoerings saam, enersyds omdat dit interessant is om die twee instrumente saam te hoor en andersyds omdat daar heelwat werke vir die kombinasie geskryf is.”

Dié eerste uitvoering deur die twee lede van die Odeion-strykkwartet kan van 8 Oktober gratis gestroom word.

Die program open met Mozart se Strykerduo no. 1 in G majeur, K423, die eerste van twee werke vir viool en altviool wat Mozart geskryf het om Michael Haydn se stel van ses vir die aartsbiskop Colloredo te voltooi.

Albei komponiste se werk bevat dubbelgrepe vir die altviool. Mozart het egter nog groter fokus op die altviool geplaas deur feitlik net soveel passasies met 16de note vir die instrument as vir die viool te skryf.

Die aartsbiskop, wat die voltooide duetstel onder die naam van Michael Haydn ontvang het, het nie die verskil in die komposisiestyle agtergekom nie, of soos dit in Wikipedia gestel word, “hy het nie Mozart se vakmanskap herken nie”.

In Louis Spohr se Duo vir viool en altviool, op. 13 kry albei musici geleentheid om hul bekwaamheid en die instrument se eienskappe ten toon te stel omdat dit “solisties” gekomponeer is. Ook in dié werk is die dubbelgrepe op die altviool ’n uitdaging.

Die konsert sluit af met drie “juweeltjies”, liedere van Schubert wat as ’n instrumentale duo verwerk is.

’n Mens kan jou kwalik “Das Wandern”, “Gretchen am Spinnrade” en “Litaney” sonder sang indink, maar volgens Moolman is die musiek uitstekend oorgedra aan die timbres van die viool en altviool.

Sy sê die Suid-Afrikaanse komponis Mokale Koapeng, wat aan ’n universiteit in Zambië verbonde is, het ’n duet vir hulle belowe wat in ’n volgende konsert gespeel sal word. Sy hoogs toeganklike Komeng vir strykkwartet is meermale al deur die Odeion-strykkwartet uitgevoer en kan op Vrystaat Klank en Klassik se aanlyn fees geluister word en op die kwartet se CD, Hidden Colours of the Free State. Dit is aanlyn te kry by Webtickets en die CD by Michelle Horn by HetzelM@ufs.ac.za.

’n Uitvoering deur Moolman en Anmari van der Westhuizen, die tjellis in die Odeion-strykkwartet, word ook in die vooruitsig gestel.

Moolman en Diamond is dosente aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM) in Bloemfontein, lei hul onderskeie afdelings in die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) en sprei soms ook hul vlerke as soliste.

Moolman het aan die altvioolkongreste in New York en Rochester deelgeneem en Diamond aan die Ryedale-musiekfees in Brittanje.

Hul virtuele konsert heet Contrast, wat dui op die verskil tussen viool en altviool, man en vrou, lank (Moolman) en kort (Diamond), oudmodies (Moolman) en byderwets (Diamond).

Vind dit van 8 Oktober om 19:30 op die OSM-webtuiste.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.