Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Dié fluitspel is nóóit vervelig

Die topresultate op die fluitis Liesl Stoltz en pianis Albie van Schalkwyk se jongste album, Recital, bly seldsaam binne ons meer ernstige musiekbedryf, skryf Paul Boekkooi.

Beskrywings rondom die moderne dwarsfluit se klank is van nature persoonlik en dus subjektief. Alles hang uiteindelik daarvan af wié die instrument bespeel. Afrikaans is hier baie ryk aan byvoeglike naamwoorde – bekoorlik, bevallig, elegant, grasieus, innemend, minsaam, sierlik – terwyl digters maklik ’n paar nuutskeppings hierby sou kon voeg.

Luister ’n mens intens na Stoltz se vertolkings, kom daar enige van die genoemde kwaliteite by jou op, maar daar is – ernstig nou – baie meer op die spel. Sou slegs hierdie basiese versagtende beskrywings die eksklusiewe hoofkenmerk van haar musikaal-tegniese spektrum wees, sou voorspelbaarheid en daarna verveling kon intree. Dit gebeur nóóit nie.

Op haar jongste CD, Recital, het haar samewerking met Van Schalkwyk voor die klavier gesorg vir uitvoerings van ses werke van wyd uiteenlopende komponiste. Dit bekragtig dat dié duo hulle tot in hul essensie – die presiese kern van elkeen se individualiteit – deurgrond het.

Die hoofwerk op dié CD is die Groot Sonate, opus 85 – een van meerderes van Kuhlau (1786-1832), wat in Duitsland gebore, maar in Denemarke getoë is. Dit is vierdelig en vol verrassings – iets wat skaars verbaas synde hy op gelyke vlak ’n meesterlike fluitis én pianis was.

Erns enersyds en meer virtuose elemente wat hier met kleur, fleur en genoeg fantasie getooi word andersyds, bevorder Romantiese ekspressiwiteit en spesifieke rapsodiese stylelemente. Meesterskap kom na vore in toonkleurnuanses, in die spesifieke temperament wat in elke deel verborge lê, asook in elke musikale kontoer binne die sonate.

In drie Franse werke – Godard se “Suite de trois morceaux”, Roussel se vierdelige “Joueurs de flûte” en Fauré se “Fantaisie” – spreek die persoonlike aard en karakteristieke taal van elkeen die luisteraar aan. Die kontraste tussen ’n ragfyn maar ook vurige vertolking wat doelgerig benader word, is opvallend. Daar word ook soms gepaste broosheid gesuggereer.

In perfekte samewerking met haar gelykgestemde pianis, kom Stoltz deurlopend uit by ’n onopgesmukte, helder en logies gefraseerde betoog vir dié buitengewone seggingskrag van dié drietal beskrywende werke.

Met die Roemeen Enescu se “Cantabile et Presto” word sinspelings na volkslied-elemente subtiel binne ’n meer wydse opset geïntegreer. Met Schumann se oorwegend vloeiende “Drie romanses” is elke detail in kleur en atmosfeer ontleed en met ’n volmaak natuurlike suiwerheid in klank omgesit. Sulke topresultate bly seldsaam binne ons meer ernstige musiekbedryf.

  • KUHLAU: Grande sonata concertante pour piano et flûte, op. 85. GODARD: Suite de trois morceaux. SCHUMANN: Drei Romanzen für Flöte und Klavier, op. 94. ENESCU: Cantabile et Presto. ROUSSEL: Joueurs de flûte, op. 27. FAURÉ: Fantaisie, op. 79. Liesl Stoltz, fluit / Albie van Schalkwyk, klavier.
  • Privaat versprei: www.lieslstoltz.co.za
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.