Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Die lewe ís lekker vir Gian: ‘Ek skryf die pyn uit’

Die sanger en liedjieskrywer Gian Groen gesels oor sy nuwe CD, die dinge wat hom inspireer en die groot hartseer wat hy en sy lewensmaat probeer verwerk. Deur Maretta Bellingan.

Gian Groen

Gian Groen en Anton Goosen eet ontbyt in ’n gastehuis in Mosselbaai waar hulle die vorige aand opgetree het. Daar was glo nie ’n reusegehoor nie, maar die twee meen die vibe was heel lekker.

Anton bestel drie eiers en beaam dat hy steeds die Bantingdieet volg.

“En wat van die twee pies wat jy gisteraand geëet het?” terg Gian. Anton gee hom ’n kyk en verander die onderwerp. Die twee is jare lange vriende en Gian erken later dat dit Anton se liedjie “Kruppelkop gewete” was wat hom jare gelede oortuig het dat Afrikaans cool kan wees.

Later gaan sit ek en Gian, skrywer van die ikoniese “Vier seisoene kind” en ’n man wat nie suinig is met sy gesels nie, buite op die stoep. Tog soek ek na woorde met die pynlike bewustheid dat die man regoor my se lewe onlangs tot stilstand geruk is deur ’n yslike hartseer.

“Ek’s jammer, dis nog baie rou en dis regtig moeilik om daaroor te praat,” sê Gian, die seer nog vlak in sy blou oë.
Gian en Tanja, sy lewensmaat van die afgelope agt jaar, het ’n paar weke gelede hul babaseun verloor toe hy op sewe maande doodgebore is.

Ek het verlede week vir ’n paar dae in die Tankwa gaan chill saam met ’n vriend. Ek het met een doel voor oë gegaan, en dit was om genesing te kry.
Gian saam met sy lewensmaat Tanja en hul dogtertjie Gita.

“Ek het verlede week vir ’n paar dae in die Tankwa gaan chill saam met ’n vriend. Ek het met een doel voor oë gegaan, en dit was om genesing te kry. Ons bly in ’n tentekamp, die stilte en die eenvoud is wonderlike medisyne.”

Die paartjie het op vyf maande gehoor dat die baba se groei vertraag is en kort voor sy geboorte het Migael se hartjie gaan staan.

“Ons het weke lank gehoop en gebid. Ná sy dood het ek sy lyfie vir ’n halfuur lank vas­gehou.”

Skaars drie jaar gelede was Gian ook op ’n baie donker plek toe een van sy beste vriende in ’n motorfietsongeluk gesterf het.

“Skaars ’n week voor sy dood het ek, Willie Wentzel en Henk van Niekerk in die Tankwa in Henk se tentekamp gaan kuier. Willie het vir ons gesê hy wil ’n groot party hou op sy 49ste verjaardag en toe ek vir hom vra hoekom hy nie wag vir sy 50ste nie, was sy antwoord: ‘Ek gaan vir die res van my lewe forty-nine wees.’

“Ek’s al telkemale deur die dood gekonfronteer; ek het my pa verloor toe ek maar 26 was. Ek weet nie hoe ander die pyn verwerk nie, maar gelukkig het ek ’n pen en ek skryf dit uit my uit.”

Ek het die laaste tyd baie met die Here gepraat, maar ek’s nie kwaad vir Hom nie.

Sewende CD pas uitgereik

Gian se nuutste CD, #AlsIsNetLekker, die sewende een wat hy in sy loopbaan van amper twee dekades uitreik, is juis opgedra aan sy oorlede vriend.

“Dit was Willie se leuse in die lewe; hy’t selfs ’n T-hemp laat maak met die woorde.”

Op die CD, wat vir ’n Ghoema vir beste alternatiewe album benoem is, is tien snitte uit sy eie pen asook een deur sy goeie vriend Valiant Swart. Daar is ook twee liedjies op waar hy saam met Anton sing.

Hy beaam dat hy nie ’n ligsinnige liedjieskrywer is nie, maar erken dat hy soms ligter onderwerpe aanraak.

Gian se dogtertjie, Gita.

“Soos die liedjie ‘Tiger en Louise’, ’n song waar ’n couple in ’n kroeg oor kleingeld ba­klei. En een van my groot songs, beslis een van my
gunstelinge is ‘Gita Blom’, wat ek geskryf het voor die geboorte van my dogtertjie.

“Om ’n ouer te wees is seker die mees kosbare ding in my lewe en Gita vat my na ’n ligter en meer ligsinnige plek. En op my nuwe CD is daar ’n song ‘Smile vir my’ waarin ek my liefde vir my dogter verwoord.”

Gian het “Vier seisoene kind” 18 jaar gelede geskryf en is baie trots daarop. Dit is opgeneem deur verskeie kunstenaars, onder wie Laurika Rauch.

“Dit was beslis ’n keerpunt in my loopbaan, maar soms voel dit asof dit die enigste song is wat ek nog geskryf het,” sê Gian, wat in Grabouw grootgeword het.

“Ek het op agt begin kitaar speel en skryf al liedjies van hoërskool af,” vertel hy.

Hy het ná skool landbou studeer. “Bedags het ek met hoenders geboer en saans om die braaivleisvuur musiek gemaak.”

Lief en leed van die lewe

In 2000 het hy sy eerste CD, Soet September, uitgereik. Hy was ook drie jaar lank lid van die groep Spinnekop. Die afgelope twee dekades verdien hy sy brood en botter as liedjieskrywer en solokunstenaar. “Ek tree so twee of drie keer per week op, dwarsoor die land.

“Ek’s werklik dankbaar ek kan ’n bestaan maak uit dít waarvoor ek die liefste is. Ek’s nie ’n mainstream kunstenaar nie, maar ek voel baie sterk daaroor dat ’n kunstenaar hom met sy ware intensies moet bemoei.

“As ek my gunstelingsanger, Ben Harper, kan aanhaal: ‘As kunstenaar ken ek niks anders as eerlikheid nie.’ ”

Gian, sy gesin en hul drie honde Fritz, Flicka en Basjan woon in ’n huis op ’n wynplaas in die Grabouw-omgewing. “Ek’s ’n oggendmens, dis wanneer ek my idees neerskryf. Die lief en leed van die lewe inspireer my, ek skryf baie metafories en gebruik graag natuurverskynsels om emosies te weerspieël.

“My aanhangers is uiteen­lopend. Dis mense wat ’n bie­tjie dink oor die lewe, wat bereid is om die seer én die bittersoet te konfronteer, want niemand se lewe is net mane­skyn en rose nie.

“Of jy nou ’n sanger of ’n hoenderboer is, almal se pyn voel dieselfde.

“Dis so ’n onnatuurlike ding om ’n kind te verloor, daar’s nie eers ’n naam daarvoor nie.

“Ek het die laaste tyd baie met die Here gepraat, maar ek’s nie kwaad vir Hom nie.

“Soms maak niks vir ’n mens sin nie en dan glimlag my dogter vir my en ek besef hoeveel ek het en dat alles nie sin hóéf te maak nie.”

Meer oor:  Musiek  |  Musikant  |  Cd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.