Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Dié musiekklasse goed vir kind se ontwikkeling

“Ek het baie navorsing gedoen oor die uitwerking van klassieke musiek op ’n jong kind se brein en sy taal- en gehoorontwikkeling voordat ek met Clever Classical Kids begin het.”

Magdalene Minnaar, die bekende operasangeres en musiek-entrepreneur, praat passievol oor die klasse wat sy in Pretoria in klasverband aanbied, maar ook op Zoom. So belangrik ag sy dié vroeë inlywing tot goeie musiek dat sy Clever Classical Kids landwyd as ’n franchise wil aanbied.

Hy is nog net ’n baba, maar geniet reeds die interaksie in een van die Clever Classical Kids-klasse.

Minnaar sê van swanger vroue tot sewejariges kan hier inskakel om musiekterme en -beginsels, instrumente, name van komponiste, wysies en so meer te leer. Dit word met beweging, sing, dansies en prettige aktiwiteite vasgelê, totaal verwyder van die druk van musieklesse.

“Ontwikkelingsmylpale van kinders, soos om op vier jaar vier sekondes op een beentjie te kan staan, word hierby ingewerk.”

Sy het ook indringend navorsing gedoen oor ’n kind se vestibulêre stelsel wat balans, gehoor en taal bepaal en tot die gevolgtrekking gekom dat saamsingliedjies ’n belangrike fokus in die verband moet wees.

“Navorsing het gewys om vir jou kind te sing is die heel beste wat jy vir sy ontwikkeling kan doen. Selfs al is jy toondoof, moet jy sing of praatsing – dis die klank van die ma se stem wat die belangrike stuk gereedskap vir ’n kind se ontwikkeling is. Daardie klank wakker dele in die brein aan wat nie net taal en gehoor nie maar selfs selfvertroue ontwikkel.

“Toe ek hiermee begin, het ek agtergekom ouers ken nie meer liedjies soos ‘Vader Jakob’ of ‘Hoedjies van papier’ of volksliedjies nie, daarom leer ons elke week ’n saamsingliedjie met bewegings wat ek ook opgeneem het. Tot babas van vyf of ses maande reageer as hulle die musiek herken.”

Minnaar glo onwrikbaar in die belangrikheid van beweging en sê haar leuse is “music plus movement equals magic”.

“As jy die regte bewegings by die regte musiek op die regte ouderdom bied, betree jy ’n ongelooflike ontwikkelingstrajek. My dogter kan op twee jaar al baie van die bewegings op liedjies uitvoer.”

Minnaar het die daad by die woord gevoeg om mense aan die sing te kry deur speellyste volgens ouderdomsgroepe op te stel. Die eerste Clever Classical Kids-album bevat byvoorbeeld stadige wiegeliedjies wat op ’n harp gespeel word.

Minnaar het ook ’n groter doel met Clever Classical Kids – om kinders lief te maak vir klassieke musiek.

Links is Magdalene Minnaar, die operasangeres en entrepreneur, wat Clever Classical Kids gestig het. Sy glo klassieke musiek aangebied op ’n prettige manier, is waardevol vir die ontwikkeling van jong kinders.

“As ons gehore vir klassiekemusiekkonserte wil kweek, moet ons by jong kinders begin. Hopelik speel hulle later instrumente, dalk sing hulle in ’n koor of neem aan sêrgroepe deel, dalk is dit hulle wat later die wonderlike gehore word wat ons so nodig het. Ons moenie net fokus op die opleiding van musici nie.

“Ek het lief geword vir klassieke musiek omdat my ouers gereeld Mozart, Bach, Vivaldi en so aan in die motor gespeel het.”

Minnaar sê ook die klasse moenie eksklusiewe geleenthede wees nie. Sy gee vir ouers die gereedskap en vaardighede om dit ook by die huis toe te pas.

“Sit musiek aan en dans saam met jou kind, sing saam, maak dit ’n vrolike aktiwiteit gestroop van reg en verkeerd en enige druk.”

Twee opgeleide instrukteurs bied die klasse in Pretoria aan in die Corner Hub @348 in Brooklynweg. Ter wille van persoonlike aandag is die getalle beperk tot ses kinders met ’n ouer elk in oggend- en middagklasse van 45 minute, asook op Saterdae. Sewe kinders en ouers kan aan die Zoomklasse deelneem.

In skoolvakansies word meer klasse aangebied waarvan die eerstes reeds in April begin.

Verskeie aktiwiteite word in die Corner Hub gehuisves, onder meer joga, hiphop, keramiek vir kinders en poppekas.

Belangstellendes kan Minnaar kontak by hello@cleverclassicalkids.com.

Meer oor:  Pretoria  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.