Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Die Naaimasjiene is terug met ’n voëlgesang
Randy Rambo in ’n rustige luim. Foto: Lerato Maduna

Die lente gaan aangekondig word met ’n ander soort voëlgesang. As ’n mens vir Randy Rambo van die Die Naaimasjiene reg lees, gaan dit nie die sagte gekoer van duiwe wees of die fluitery uit die mond van die Fluitende Predikantsvrou nie.

“Aandlied van die voëls” gaan iets totaal anders besing.

“Al wat ek kan sê, is dat dit oor die lekkerste ding in die lewe gaan. Ons sing ook oor onder andere Bobby van Jaarsveld, Snotkop en Elvis Blue. En Jacob Zuma maak ’n gasvertoning op vocals.”

So by die drie dekades gelede het Die Naaimasjiene hulself geopenbaar as “onverantwoordelike rebelle”.

Volgens ’n verslag van ’n sensor (in die omslag van hul eerste CD, Die saai lewe) word gesê hulle oortree alle sosiale konvensies.

“Vir hulle is die biologiese prikkel nie ’n saak van die binnekamer nie,” het ene mev. Jacomina van der Hoven van die Organisasie van Federale Overte Kultuur (Ofok) die inhoud van vele liefdesliedjies op die album beskryf.

Dit was klaarblyklik in ligte luim.

Op ’n ernstiger noot – die album is in 1990 deur die PW Botha-regering verbied. Ná voorlegging vir heroorweging aan die publikasieraad van die nuwe Suid-Afrika in 1997 is beslis dat die album “nie ongewens is nie, maar dat dit slegs onderhewig aan ’n ouderdomsperk van 18 jaar versprei mag word”.

Hieroor bekommer Randy Rambo hom nie meer vandag nie. Hy het besluit dat hy alles voor die jaar 2000 uit sy kop gaan sit.

Dus is Die Naaimasjiene terug om weer musiek te maak.

Dit gaan nie goed in die land nie. Daar is nie lekker vibes nie. Dis tyd vir regstellende satisfaksie.

“Ná baie gesprekke het ons besluit om ’n helse lawaai te maak. Dit gaan nie goed in die land nie. Daar is nie lekker vibes nie. Dis tyd vir regstellende satisfaksie,” sê hy.

Die “ons” van wie hy praat, is ’n interessante lys karakters soos Karla Krimpelien, inspekteur Pierre de Beer, Louise Visagie, Dr. Zobo, Dug Phat, Corbos, Bozzie Bosman en prof. Willem Wildebeest en Pielneef. As jy so kyk na die name, kan jy nie glo hoe vaardig hulle op verskeie instrumente is nie. Daar is werklik min wat nie tussen die klomp bespeel word nie.

“Ons musiek kan nie ge-pinpoint word nie. Ons glo aan die kruissteektegniek tussen verskillende genres.”

Daar is wel al ’n datum vir die uitreik van die nuwe album (wat eers net op iTunes sal wees). Dit is op 13 Junie 2018 om saam te val met Wêreldnaaimasjiendag.

Randy wil nog nie te veel sê oor die liedjies nie, maar ná ’n bietjie pleit, gee hy tog ’n paar van die titels: “Skootdans” “Umthondo we Sizwe” en “Welkom in Zuptawood”. Laasgenoemde is die groep se eerste Bollywood-nommertjie.

“En alles op die album is nie ’n gekskeerdery nie. Ons skryf oor die wêreld wat ons om ons sien, en dit is nie ’n pienkpilletjie-paradys nie. Daar is ernstige dinge waaroor ook gepraat moet word.”

Dis baie lekker om weer terug te wees in die naaldwerkklas.

Om hul ondersteuners bewus te maak van wat aan die kom is, het Die Naaimasjiene ’n Facebookblad begin.

“Dit was eers oop vir almal, maar toe kla daar mense en nou is dit ontoeganklik net vir mense ouer as 18. Dis ’n blad vol volwasse humor en genadelose satire. As jy elke dag ’n bietjie wil lag, moet jy by ons FB-blad aansluit.”

Randy Rambo luister die afgelope paar jaar al nie meer na Afrikaanse musiek nie.

“Ek sit af en toe kanaal 146 aan en sit dit ná tien minute weer af. Die video’s maak ’n mens moeg. Dis sommer so in die mense se agterplase verfilm en dan dra die vroue aandrokke en hul blonde hare is blink gespuit. Die liedjies het lirieke wat ’n gr. 7-meisie in ’n jaarblad sal publiseer.

“Daar is goeie goed ook. Daar is ’n hele paar outoppies wat ek begin herontdek en wat my weer lus maak om self te skryf. En Laurinda Hofmeyr en Clarabelle van Niekerk sal altyd my groot darlings wees.”

“Dis baie lekker om weer terug te wees in die naaldwerkklas. Daarom wil ons die skryf en opnameproses so lank as moontlik uitrek,” sê hy.

Maar teken solank 1 September duidelik in jou dagboek aan wanneer “Aandlied van die voëls” gratis op SoundCloud uitgereik word. Dan begin die gekwetter.

Meer oor:  Musiek  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.