Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Dié ongewone trio tower inderdaad nuwe klanke op
Trio NeuKlang se lede is van links Jan Jachmann,Nikolaj Abramson en Arthur Hornig.

Gedink daar is niks nuuts onder die son nie? Trio NeuKlang bewys die teendeel. Die naam van dié ensemble, wat van 9 tot 17 September in Suid-Afrika toer, verklap egter net ’n gedeelte van die waarheid.

Gegewe die ongewone kombinasie van klarinet, akkordeon en tjello, is hul klank inderdaad nuut. En dan is daar ook die wyse waarop dié drie geesdriftige kunstenaars die musiek uitvoer, wat soos nuwe wyn in ou sakke is.

“Ons doelwit was van die begin om ’n andersoortige musiekervaring te bied deur ’n nuwe klank aan bekende musiek te verleen. Daarvoor gebruik ons meestal musiek van bekende kontemporêre komponiste wat ons self verwerk.

“Dit beteken Mozart se Eine Kleine Nachtmusik klink soos ’n tango, Beethoven se simfonieë word jazz-standards en kontemporêre musiek laat jou dink aan barokmusiek,” skryf die musici op hul webwerf.

Die jong trio is reeds met verskeie pryse beloon, onder meer Berlyn se Kunstenaarsbeurs, die Brandenburg-kamermusiekprys en die stad Moers se ensembleprys.

Die musici

Nikolaj Abramson (klarinet), is in Moskou gebore, het sy instrument daar leer speel en in 1991 dit aan die Christian Philipp Emanuel Bach-gimnasium beter leer speel.

Hy het kompetisies gewen, beurse ontvang, sy meestersgraad verwerf, op feeste gespeel en heelparty opnames vir CD’s en radio gemaak. Talle ensembles en orkeste nooi hom gereeld om as solis saam met hulle op te tree.

Arthur Hornig (tjello) het aan die Berlynse Musiekakademie en die Universiteit vir Musiek en Uitvoerende Kunste in Frankfurt gestudeer.

Hy het eweneens pryse gewen, as solis saam met verskeie orkeste gespeel, is ’n lid van Trio Lieto wat ook pryse opgeraap het en was bevoorreg om by die Artemis-kwartet in Berlyn meer te leer. Hy was ook een seisoen lank die hooftjellis van die Duitse operaorkes in Berlyn.

Die derde lid van Trio NeuKlang, Jan Jachmann (konsertakkordeon), is ’n boorling van Berlyn wat as student in Lübeck en Bremen ook kompetisies en beurse gewen het.

Jachmann tree as ’n solis en ’n lid van kamer-ensembles op en werk graag saam met kontemporêre komponiste soos Georg Katzer, Jeffrey Ching en Klaus Lang.

Die musiek

Die titel van hul konserte, Goodbye Astor, is ook die titel van hul nuutste CD. Hierin demonstreer hulle met hul verwerkings dat Vivaldi se Vier seisoene in werklikheid deur die Argentynse komponis Astor Piazzolla geïnspireer is, dat Rossini se barbier van Sevilla Beethoven se hare gesny het, en jazzkonserte in Edvard Grieg se saal van die bergkoning gehou is.

Goodbye Astor word beskryf as ’n liefdesverklaring aan die tango en terselfdertyd ’n huldeblyk aan klassieke musiek.
Toerprogram

  • 9 en 10 September om 18:30: Starlight Classics, Country Club, Johannesburg.
  • 14 September om 19:30: Goodbye Astor, Odeionteater, Kovsiekampus, Bloemfontein.
  • 16 September om 20:00: Goodbye Astor, Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg.
  • 17 September om 15:00: Goodbye Astor, Etienne Rousseau-teater, Sasolburg.

Besprekings is by Computicket.

Besoek ook http://www.trio-neuklang.de/english/audio.

Meer oor:  Charl Du Plessis  |  Uitvoering  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.