Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Die storie agter David Kramer se rooi vellies
David Kramer is bekend vir liedjies soos “Royal Hotel” en “Stoksielalleen”, maar ook vir sy rooi velskoene. Foto: Mary-Ann Palmer

David Kramer se rooi velskoene is amper net so bekend soos die sanger self.

Die geliefde “Meisie sonner sokkies”-sanger het egter nog nooit die verhaal van dié vellies vertel nie – tot nou toe.

Kramer het vandeesweek op sy Facebook-profiel die storie agter die storie van die skoene gedeel, en dit strek terug tot in 1974.

“Tot vandag toe onthou mense my vir my rooi velskoene,” skryf hy.

As hy op ’n dag nie dié skoene aantrek nie, word hy summier voorgekeer en gevra waar dié bloedrooi kenmerk van hom van die afgelope 33 jaar is.

Dan vertel hy hoe hy in 1974 na Worcester, sy geboortedorp, teruggekeer het nadat hy ’n graad aan die Universiteit van Leeds in Brittanje verwerf het.

Dit was toe dat hy ene Boet van der Hoven ontmoet het. Van der Hoven was ’n kunsonderwyser by die Hugo Naudé-kunssentrum waar Kramer ook destyds ’n leerling was.

As hy nie sy rooi velskoene dra nie, wil mense dadelik weet hoekom nie, skryf David Kramer op sy Facebook-profiel. Foto: Mary-Ann Palmer

Die twee het vriende geword en ’n paar jaar later – in die vroeë 80’s – het Kramer ’n konsert in Oudtshoorn gehou waar Boet en sy vrou, Sarah, teen daardie tyd gewoon het.

“Boet het ’n paar rooi velskoene met motorbande vir skoensole in ’n plaaslike winkel gevind en dit as ’n geskenk vir my gekoop.

“Ek was baie ingenome daarmee en het vir hom ’n dankienota met hierdie klein versie gestuur:

‘Tjikkeling, tjikkeling, tjikkely

Een vir ’n geel pampoen

Twee vir ’n rooi velskoen

Hoe lekker kry ek nou.’ ”

Dit klink met rede bekend – dié versie het Kramer later vir die koorgedeelte van een van sy grootste treffers, “Stanley en die koei”, gebruik.

“Boet is in 2003 oorlede, maar wanneer ek my velskoene aantrek, dink ek aan hom. Dankie Boet,” sluit hy af.

Die Facebook-inskrywing het groot reaksie ontlok, met talle Kramer-bewonderaars wat hul eie stories en herinneringe van sy vellies gedeel het.

SJ Naude skryf op Kramer se blad dat sy bynaam op universiteit juis Vellies was omdat hy in sy eerste jaar met ’n paar bloedrooi Nike-tekkies by die koshuis opgedaag het en ’n huiskomiteelid hom toe vra: “Dink jy jy’s David Kramer? Jou naam is van nou af Vellies!”

’n Naamgenoot skryf dat mense gereeld vir hom vra waar sy rooi velskoene is wanneer hulle hoor sy naam is ook David Kramer.

Maryke van Eck skryf: “My pa en oom het elkeen ’n paar vellies gehad en is albei met hulle begrawe.”

Lees Kramer se volledige inskrywing hier

Meer oor:  David Kramer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.