Die Covid-19-inperking het musikante uit die konsertsaal gehou, maar hulle tyd tuis gegee om behoorlik te oefen, soos gehoorlede sal oplet as hulle na ’n huldeblykvertoning van die Britse rockgroep Dire Straits luister.

Die band-lede wat Vrydag in die Aasvoëlklub by Bloemfontein optree, is van links Chris Smith, John Smit, Nic Klopper, Skye Klopper, Heinrich Oelofse and Rowan Budding.
Nic Klopper, ’n deurwinterde musikant, het benewens ouer musikante twee nuwelinge gekry om in die vertoning in Bloemfontein op te tree – Rowan Budding op kitaar en die jong Heinrich Oelofse wat die leiding op kitaar neem.
Jeugdige geesdrif en energie bied altyd ekstra sprankel aan ’n konsert, beaam Klopper. Hy het dit eerstehands ondervind toe sy dogter, Skye Klopper, se vaardigheid op tromme genoeg ontwikkel het sodat sy saam met die ouer musikante kon optree.
“Sulke woema sorg vir opwindende optredes,” sê hy.
Die ander groeplede is Chris Smith (klawerbord) en John Smit (baskitaar en perkussie) met Klopper as sanger en klawerbordspeler.
Van die bekendste Dire Straits-liedjies op hul speellys vir die optrede is “Sultans of Swing”, “Money for Nothing” en “Walk of Life” asook van hul mooiste ballades soos “Telegraph Road”, “Brothers in Arms” en “Tunnel of Love”.
Die konsert is op 27 Februarie om 19:00 in die Aasvoëlklub (op die Kelley’s View-pad in Bloemfontein). Die kaartjies kos R100 elk en is te kry by Kiki Corner in Langenhovenpark en die Nic Klopper-musiekskool by 072 592 9179.
Covid-19-regulasies geld wat dus ’n beperking op die getal konsertgangers plaas en die dra van maskers verpligtend maak.