Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Dié twee Britse here laat die Steinways vir almal sing
David Nettle en Richard Markham.

’n Uitvoering deur die Britse klavierduo Nettle and Markham is een van die grootste geskenke vir ouer musiekliefhebbers. Nie dat jonger luisteraars uitgesluit is nie. Dis net dat dié twee Britse here 40 jaar gelede as die enigste bekende duo op die internasionale kringloop groot bewondering afgedwing het.

En hier is hulle steeds – met dieselfde sprankel en geesdrif, maar meer ervaring en ’n groter repertorium.

David Nettle en Richard Markham begin hul Suid-Afrikaanse toer op 20 Oktober in Bloemfontein en sluit dit op 12 November in Kaapstad af.

’n Hele koerantblad is nie genoeg vir ’n opsomming van hul loopbaan nie, daarom moet ’n mens volstaan met dit wat volgens hulle uitstaan, soos huldigingskonserte vir Strawinski en Saint-Saëns, die première vanBruch se herontdekte Dubbel-concerto en ’n uitvoering van Holst se eie tweeklavier-verwerking van sy The Planets-suite.

Dié kragtoer is opgeneem, soos ook talle werke wat oor die jare heen vir hulle geskryf is, vir twee klaviere en vier hande op een klavier.

Die twee klaviervennote is ook in drie televisiedokumentêre verewig.

In Brittanje is Nettle en Markham glanspersoonlikhede, maar Amerika staan nie ’n tree terug wat aanhang en verering betref nie.

Van 1990 onderneem die duo feitlik elke jaar ’n konserttoer kruis en dwars oor die land met twee identiese Steinway-konsertvleuels. In 2002 het hulle hul 25ste herdenking as konsertkunstenaars met ’n uitvoering in New York se Steinway Hall gevier. Hulle is kunstenaars van dié handelsmerk.

Die meeste klassiekemusiek-kunstenaars se enigste kennis van Afrika is besoeke aan Suid-Afrika, maar dit is nie met dié twee die geval nie. Hulle het al in Kenia, Zimbabwe, Botswana en Lesotho opgetree, en op deftige passasierskepe.

Die spektrum van style in hul repertorium word op hul albums weerspieël en strek van Strawinski se Le Sacre du printemps en Brahms se volledige tweeklavierwerke tot die Amerikaanse Broadway-komponis Vincent
Youmans se “Carioca” (waarop die sopraan Jill Gomez “South of the Border” sing), terwyl die CD’s Nettle & Markham in England/America/France ook hul slag met verwerkings toon.

Nettle & Markham in America bevat hul grootskaalse transkripsie van musiek uit West Side Story.

Dié twee hoogs begaafde pianiste besit ’n manjifieke Pleyel-dubbelklavier uit 1928 wat saam met hul eie twee Steinways in hul ongewone ateljee in Londen, ’n omgeboude Victoriaanse spoorweg-koepelgebou, staan gemaak is.

Die voorlopige program vir hul Suid-Afrikaanse konserte is die Andante en Variasies, op. 46 van Schumann, die Scherzo, op. 87 of Polonaise, op. 77 van Saint-Saëns, die Concertino, op. 94 van Sjostakowitsj en transkripsies van Puccini se Turandot en Bolero van
Ravel.

Mendelssohn se Concerto vir twee klaviere is op hul program met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes.

  • Konserte: 20 Oktober in die Odeion in Bloemfontein; 22 Oktober en 5 November in die Endler in Stellenbosch, 10 November met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes in die Kaapse stadsaal; 12 November in die Baxter-teater in Kaapstad.
Meer oor:  Klavier  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.