Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Dié vampiere klinkend in die kulturele spookhuis
Die omslag van Vampire Weekend se jongste album.

’n Mens het Vampire Weekend in jou lewe nodig besluit Danie Marais nadat hy na Father of the Bride, hul eerste album in ses jaar, geluister het.

Vampire Weekend – Father of the Bride (* * * *)

Die kanse op teleurstelling met die nuwe Vampire Weekend-album – hul eerste in ses jaar – was so groot vir enige ernstige aanhanger dat dit later onafwendbaar begin voel het. Jy kan nie anders as om wonderwerke van dié groep te verwag nie. Ezra Koenig en sy speelse indie-kultuurvampiere se seminale debuut was in 2008 my nommer 2-album vir die jaar en hul derde een, Modern Vampires of the City, dié plaat van 2013. Laasgenoemde het ook die Grammy vir beste alternatiewe musiekalbum gewen.

Intussen het Koenig se vernaamste liedjieskryfvennoot, Rostam Batmanglij, egter die groep vir ’n sololoopbaan verruil. Koenig het ook van New York na Los Angeles verhuis, pa geword, ’n liedjie bygedra tot Beyoncé se alomgeloofde album Lemonade (2016) en ’n animasiereeks vir Netflix, Neo Yokio, gemaak met, onder andere, Jaden Smith, Jude Law en Steve Buscemi as stemkunstenaars in die rolverdeling.

In die wêreld van popmusiek in ’n aandagafleibare, kultureel oorversadigde tyd is ses jaar ’n ewigheid. Koenig sê in ’n onderhoud dat hy aanvanklik self gespanne was oor die afwagting rondom ’n nuwe Vampire Weekend-plaat, maar toe word kitaar- én indie-rock dood verklaar en kort daarna word die einde van die album-era aangekondig. Mettertyd het hy ’n bevryding begin voel. As alles verlore, passé en verby is, is daar tog niks wat die eertydse redders van indie kan of moet vermag nie.

Met ’n 18-liedjie-bielie van ’n comeback-album, Father of the Bride, het Koenig en ’n rits uitgesoekte medewerkers egter al die bogenoemde veralgemenings terloops van die tafel gevee en hemelhoë verwagtinge oortref.

Koenig maak steeds musiek soos iemand wat die hele jukebox van die laaste 70 jaar ingesluk het en in nuwe, fyn georkestreerde musikale dagdrome uitsug. Dis fanaties, eklektiese pop-rock wat so deeglik in geen ander era heeltemal tuis is nie dat dit klinkend volmaak in die kulturele spookhuis van 2019 pas.

Hierdie nuwe geïnspireerde mengsel van alles en nog wat bewys Koenig het reeds met hul debuut presies geweet wat hy besig is om te doen. In 2008 skryf hy in ’n blog:

“Wat is outentiek vir ’n ou soos ek? Die voor die hand liggende antwoord is dat ek, soos almal van ons, ’n waarlik postmoderne verbruiker moet wees wat stukkies van verskeie tradisies en kulture neem en dit volgens my eie estetiese instinkte inspan. Om die waarheid te sê, al my vriende (selfs die kinders van immigrante) lyk asof hulle in dieselfde bootjie is. Ons is tegelyk ontkoppel van en verbind met alles.”

“Wat is outentiek vir ’n ou soos ek? Die voor die hand liggende antwoord is dat ek, soos almal van ons, ’n waarlik postmoderne verbruiker moet wees wat stukkies van verskeie tradisies en kulture neem en dit volgens my eie estetiese instinkte inspan. Om die waarheid te sê, al my vriende (selfs die kinders van immigrante) lyk asof hulle in dieselfde bootjie is. Ons is tegelyk ontkoppel van en verbind met alles.”

Op Father of the Bride is daar, onder meer, eggo’s van afropop, hip-hop, R&B, sonnige Kaliforniese pop-rock en Chet Baker se cool jazz. Wat dié keer bykom, is glimmende country-pop nadat Koenig diep onder die indruk van Kacey Musgrave geraak het.

Terwyl die Hawaiise kitaar op “Married in a Gold Rush”, ’n uitstaande duet met Danielle Haim, egter skynbaar sentimenteel hunker na eenvoudiger tye, relativeer die lirieke hierdie effek met bedrewe kommentaar op sowel die country-genre as verhoudings en politiek: “Something’s happening in the country / And the government’s to blame / We got married in a gold rush / And the rush has never felt the same”.

Die ewe merkwaardige countryballade “Hold You Now”, ook ’n duet met Haim, vertel die tragikomiese verhaal van ’n mislukte bruilof, maar word verstommend geslaagd met ’n stuk Melanesiese koorsang uit die oorlogsfliek The Thin Red Line se klankbaan versmelt.

“Sympathy” is dalk die verrassendste lekkerny wat dié groep tot nog toe prakseer het – ’n liefdeskind van The Beatles en die Stones en Paul Simon se weergawe van Latyns-Amerikaanse klanke op Rhythm of the Saints met ’n kinderkoor wat uit die bloute agtergrondgesang verskaf – en dit werk soos 'n absurde bom.

Die algemeenste klagte van kritici oor Vampire Weekend se wydgestrekte jongste is dat dit effens onsamehangend en sonder fokus voel. Father of the Bride klink inderdaad bietjie soos ’n mengsel van Greatest Hits en B-sides van drie verskillende inkarnasies van Vampire Weekend met Koenig se skynbaar kinderlik onskuldige tenoor as die enigste konstante.

Koenig het egter op Instagram geskerts dat enige luisteraar in die playlist-era eenvoudig die ses snitte waarvan hy of sy nie hou nie self kan uitfilter. En al gooi jy ses oorboord, neem hierdie bittersoet plesierboot jou steeds op ’n unieke seevaart.

“This Life” en “Unbearably White” wys niemand verwerk die unbearable lightness (and whiteness) of being tot meer aansteeklike troos nie. En wanneer Koenig in die skitterende “Harmony Hall” sing “I don’t wanna live like this, but I don’t wanna die”, neurie jy blymoedig saam met die klein eksistensiële krisis van miljoene sterflinge.

Hierdie vampiere tap jou nie, maar laat warm, nuwe bloed deur jou are bruis. Jy het hulle in jou lewe nodig soos harmonie, humor en “Good Vibrations” vir die 21ste eeu.

Topsnitte

* “Hold You Now” (met Danielle Haim)

* “Harmony Hall”

* “This Life”

* “Unbearably White”

* “Married in a Gold Rush” (met Danielle Haim)

* “Sympathy”

Meer oor:  Musiek  |  Danie Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.