Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Dié violis straal musikaliteit, virtuositeit uit

Die Noorweegse violis Vilde Frang (34) is relatief gesproke nog ’n nuweling op die internasionale vioolfirmament. Oor die afgelope dekade het sy haarself onder talle vrouekollegas as synde uitsonderlik bewys – veral in die ewewig tussen musikaliteit en virtuositeit wat sy deurentyd uitstraal.

Anne-Sophie Mutter en Janine Jansen was haar vooruit met dié kwaliteite, en tussen ’n jonger geslag, nou in hul twintigs, sal die leidinggewende uitblinkers binnekort hulleself begin openbaar. Dit is te vroeg om te spekuleer.

Frang se jongste album belig twee kontrasryke vroeg-Romantiese komponiste: Paganini en Schubert. Hulle het meer in gemeen as wat hulle verskil. Albei was melodies innoverend vir hul tydvak: Eersgenoemde deels gerig op die bel canto-era van sy tyd, maar ook op totale ontginning van die viool as uitdraer van verstommende vlakke van virtuositeit.

Schubert was ’n meer stemmingsomvattende en ryklik kontrasterende melodikus. Daar is dieper emosionele hartstog aanwesig. Albei het vir die kitaar gekomponeer: Paganini wyd; Schubert het dit tot informele huiskonserte beperk. Sý klavierspel was uitsonderlik ontwikkeld in vergelyking met sy vioolvaardigheid.

Frang begin en eindig haar program met solo-vioolwerke. Paganini se Nel cor più non mi sento – ’n capriccio-inleiding, gevolg deur ’n tema en sewe stratosfeeromvattende variasies. Haar deurdagte benadering wat musikaal perfekte resultate tot gevolg het, verhoog die werk se substansie.

Ernst, ’n Morawies-Joodse violis en komponis, het met sy Grand Caprice Schubert se lied Erlkönig getranskribeer. In dié uitvoering slaag Frang daarin om – te midde van die uitdagendste tegniese vlakke wat in vioolspel bereik kan word – steeds die stem van die verteller, die pa én seun in hierdie gedig, deurgaans kontrasryk in haar uitvoering te suggereer.

Liszt transkribeer ’n kombinasie van twee Schubert-klavierwerke in sy Valse-Caprice in a, S427, in ’n verwerking deur die legendariese David Oistrakh. Frang en haar pianis, die Duitser Michael Lifits, bereik hoë vlakke van samespel wat eweneens ook in die oorblywende twee Paganini-werke die luisteraar meevoer.

Dit laat ons met twee volwaardige Schubert-werke: die Fantasie in C en die Rondo Brillant in B mineur. Die Fantasie wat volgens Alfred Einstein “’n substituut is vir die vioolkonsert wat Schubert nooit geskryf het nie”, word in ’n glansend dinamiese lig geplaas sonder dat daar nie ook ag geslaan word op die ruspunte en intimiteit nie.

Wat die Rondo Brillant betref neig die uitvoering ietwat na die bekoorlike dimensie van dié werk, terwyl dit bepaald ook ’n effekryke, virtuose een is. Hierdie is niks meer as ’n minuskule kritiese kantaantekening nie . . .

PAGANINI: Nel cor più non mi sento; I palpiti; Cantabile in D. SCHUBERT: Fantasie in C, D934; Rondo brillant in b, D895. Transkripsies van Schubert-werke deur Liszt en Ernst. Vilde Frang, viool / Michael Lifits, klavier. Warner Classics 0190295419363.

Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.