Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Dis opera’ op RSG spog met nuwe aanbieder

Die musiekimpresario Charl van Heyningen het eers gedink dis ’n April-grap toe hy genader is om die gewilde RSG-musiekprogram Dis opera aan te bied.

Hy neem op 17 November die leisels by Wouter de Wet oor.

Charl van Heyningen, nuwe aanbieder van Dis opera op RSG.

“Ek was nogal uit die veld geslaan toe hulle my gevra het, maar ek het besef ek dit is presies wat ek wil doen, so dis baie lekker,” sê hy.

Van Heyningen, kunste-entrepneur, stemkunstenaar en sanger, het as akteur in reekse soos Wolwedans in die skemer, Die losprys en Die rooi komplot verskyn. Hy het ook in operas opgetree.

Hy bied gereeld ’n program op Fine Music Radio aan en het ’n rukkie by Radio Helderberg uitgesaai, “maar dit was in die kleine”.

Hy is die seun van die oudomroeper, sanger en akteur Francois van Heyningen wat in 2015 dood is.

“Hoewel ek nooit ’n radioman was nie, het ek grootgeword in die skadu van die SAUK.

Charl van Heyningen hou van radio.

Ek het letterlik in die ateljee grootgeword. Ek was ses weke oud en het daar in ’n wiegie gelê. My pa was ’n deurwinterde radioman.”

Van Heyningen het agtergekom radio is in sy bloed.

“Dis die vreemdste ding, ek het geen ondervinding van die mikrofoon gehad wat aanbieding betref nie, maar toe ek dit die eerste keer gedoen het, het dit gevoel of ek dit al ’n leeftyd doen.”

Barry Coleman en Charl van Heyningen in Il barbiere di Siviglia.

Hy beskou Dis opera as ’n gulde geleentheid om ’n spesialisprogram aan te bied.

“Ek kan my kennis, kundigheid en ondervinding gebruik en met ’n breë gehoor deel.”

Van Heyningen hou as aanbieder van ’n ligte trant.

“Ek wil die geharde operaliefhebber kan tevrede stel en behou, maar ook meer luisteraars lok met ’n gemakliker, ligter aanslag. Ek dink my aanbieding sal baie beslis lig en gemaklik wees. Jy werk in elk geval met materiaal wat dikwels baie swaar kan wees. Dit moet luisteraarsvriendelik wees, ek wil dit nie te swaar hou nie.”

* Dis opera word Sondae om 21:10 (net ná die 21:00 nuusbulletin) op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai.

Lize Thomas en Charl van Heyningen in Don Giovanni.
Meer oor:  Rsg  |  Charl Van Heyningen  |  Wouter De Wet  |  Francois Van Heyningen  |  Dis Opera  |  Musiek  |  Radio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.