Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Dis wat musici in staat van inperking doen

Bernhard Gueller Foto: Argief

Musici het die afgelope weke die een na die ander e-pos met dieselfde boodskap gekry: Jammer, jou konsert is weens die koronavirus afgestel. Oornag is hul dagboeke leeg en het hulle tyd beskikbaar waarvoor hulle nie beplan het nie. Elretha Britz het gaan aanklop.

Bernhard Gueller, dirigent en hoof-gasdirigent van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes

Daar is ’n “hele lugleegte” in sy lewe. Bernhard Gueller sê hy sou nou Mahler se Kindertotenlieder en Beethoven se Simfonie nr. 3 (Eroica) met die Simfonieorkes Nova Scotia in Halifax, Kanada, ingeoefen het. Maar nou lees hy meer en luister hy na musiek wat hy in digitale konsertsale vind. Sy vrou, Shirley, sê hy gaan ook graag winkels toe en ontsmet dan alles wat hy gekoop het sodra hy terug is by die huis.

Charl du PlessisFoto: Raphael Hadad

Charl du Plessis, pianis, stigter van die Charl du Plessis Trio en eksklusiewe begeleier vir Nataniël

“Wat ’n eienaardige tyd waarin ons leef. Maande se werk, beplanning en logistieke reëlings is meteens daarmee heen, wat nogal oorweldigend is.

“Maar ek is van nature ’n positiewe mens en probeer gefokus bly om die tyd so produktief en konstruktief as moontlik te gebruik. My lewenstyl laat my normaalweg nie toe om enigiets rustig aan te pak nie. Alles gebeur altyd baie vinnig en met groot intensiteit; daarom is dit vir my heerlik om rustig deur partiture, boeke met transkripsies en die geskiedenis van ou jazzklavierstyle te lees.

“Vir ’n verandering het ek ook tyd vir stap, joga, meditasie, gesonde kos en om nuwe idees vir konserte uit te dink.”

Du Plessis sê sy groot droom is om ’n bekwame klavierstemmer en -tegnikus te word.

“Ek leer reeds jare lank by verskeie plaaslike en internasionale klaviertegnici alles wat ek kan. Toe die eerste korona-fase verlede Sondag aangekondig is, het ek dadelik die stemmer by Tukkies gevra of ek kan help en het in een week ’n hele paar klaviere gestem. Dit gee my groot bevrediging as ’n klavier goed klink.

“Sodra ons weer mag reis, wil ek in Junie vir twee weke by die meesterklaviertegnikus Urs Bachmann in Zürich, Switserland, gaan leer. Hy stem gereeld klaviere vir Evgeny Kissin, Martha Argerich, Chick Corea en András Schiff.”

  • Samson Diamond, violis
Samson Diamond Foto: Argief

Dié Bloemfonteinse violis het tot nou kinders opgepas terwyl sy vrou in Pretoria gewerk het, maar het darem tyd gekry om aanlyn meditasieriglyne te volg en Taebo-oefeninge te doen.

“Ek is beskikbaar vir my studente wat my met video-oproepe of oudio-opnames vir lesse kan kontak en ek het nou tyd om leeswerk vir my doktorsgraad te doen.”

Soos talle musici oor die wêreld heen het Diamond ook kansellasies van konserte ontvang.

“Die hartseerste is ’n toer in Brittanje, die VSA en Kanada in April. Dit gee my wel tyd om nuwe konserte te beplan terwyl ek opwindende uitnodigings verwag, maar die koronavirus sal bepaal of dit realiseer.”

Anmari van der Westhuizen, tjellis in die Odeion-strykkwartet en leiertjellis in die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO)

Anmari van der Westhuizen Foto: Foto24 / Argief

“Die tyd gee my geleentheid om elke dag te oefen en ’n nuwe repertorium te leer, wat selde in ons bedrywige semesters moontlik is. Ek skakel ook in by meesterklasse wat tjellomeesters op Facebook gee en dit is te lekker om na aanlyn konsertopnames van byvoorbeeld die Berlynse Filharmoniese Orkes te luister.”

Sy sê sy gee die afgelope drie jaar al musieklesse op Skype vir leerlinge elders in die land. Nou doen sy dit ook vir Kovsiestudente, nie net op Skype nie, maar ook op Zoom.

“Dankie tog vir die internet wat ons in staat stel om onder hierdie vreemde omstandighede met vriende en familie kontak te hou.”

Zorada Temmingh, orrelis en pianis

Zorada Temmingh Foto: Foto24 / Argief

“Sodra my huis blink van klip tot kristal, gaan ek doen wat ek elke jaar dreig om te doen, maar net stuk-stuk by uitkom: Ek gaan my improvisasies noteer met die hoop dat dit komposisies word. Daarvoor het ’n mens werklik bloktyd nodig sodat die kreatiewe prosesse ongehinderd hul gang kan gaan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.