Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Domingo staande toegejuig, ondanks seksklagte

Die operaster Placido Domingo is Sondag staande toegejuig op die Salzburg-fees, sy eerste optrede sedert hy deur nege vroue van seksuele teistering beskuldig is.

Placido Domingo word staande toegejuig in Salzburg – selfs nog voordat die opera begin het. Foto: Getty Images

’n Plaaslike koerant Kleine Zeitung se opskrif het gelui: “Triomf in Salzburg, staande toejuiging vir Domingo ondanks #MeToo-petalje”.

Hy het gesing in die opera Luisa Miller van Verdi op die jaarlikse musiek- en dramafees in Oostenryk, berig The Guardian.

Domingo het volgens berigte reeds voor die vertoning op sy eie ’n staande applous gekry, en ook ná die tyd saam met die res van die sangers.

Agt sangeresse en ’n danseres het vroeër die maand aan die media gesê dat Domingo hulle seksueel geteister het in voorvalle so ver terug as 1980.

Hy het glo sy posisie as een van die wêreld se mees gevierde tenore misbruik om hulle in seksuele verhoudings in te dwing, berig The Local.

Los Angeles Opera het daarna gesê hy gaan ondersoek instel na die bewerings, en die Philadelphia-orkesvereniging het sy uitnodiging aan Domingo teruggetrek om op 18 September in sy openingskonsert op te tree.

Volgens The New York Post het die vroue gesê Domingo se teistering was ’n ope geheim. Drie het gesê hy het hulle ongevraagde nat soene gegee en nog een het gesê hy het sy hand by haar romp ingesteek.

Die sopraan Patricia Wulf, die enigste vrou wat haar naam bekend gemaak het, sê Domingo het haar nooit aangeraak nie, maar aanhoudend vir seks gevra “wat ongetwyfeld seksuele teistering was”.

In dié stadium sing Domingo nog volgende maand in die opera Macbeth in die Metropolitan Opera in New York.

Toe die mense nog voordat die opera begin het reeds opgestaan en hom toegejuig het, was dit ’n uitdrukking van hul ondersteuning vir hom.
Michael Burggasser, ’n Duitse hoogleraar in letterkunde

Michael Burggasser, ’n Duitse hoogleraar in letterkunde, het ná die Salzburg-opera gesê dit was nie net ’n optrede van uitstaande gehalte nie, maar ook ’n “openbare rehabilitasie van mnr. Domingo”.

“Toe die mense nog voordat die opera begin het reeds opgestaan en hom toegejuig het, was dit ’n uitdrukking van hul ondersteuning vir hom.”

Die staande toejuiging ná die konsert het tien minute geduur.

Domingo (78), wat al van 1962 getroud is, het onlangs as ’n bariton begin sing, en sy optredes is steeds volgepak. Hy het meer as 100 albums uitgereik en vier Grammy-pryse gekry. Vroeër vanjaar het hy sy 4 000ste optrede gevier in ’n loopbaan van 60 jaar, berig The Local.

Meer oor:  Metoo  |  Placido Domingo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.