Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Doyenne van tjello Marian Lewin dood op 80
Die tjellis Marian Lewin (80) is Maandag oorlede. Hier is sy saam met die fluitspeler Helen Vosloo en die pianis Malcolm Nay. Hulle was bekend as die Trio Hemanay.

Marian Lewin, bekend as die doyenne van tjello in Suid-Afrika, is op 29 Junie in haar huis in Mouillepunt, Kaapstad, oorlede.

Sy het in Maart 80 geword en het volgens haar man, Harold Kimmel, rustig en sonder pyn gesterf, soos sy dit wou hê.

Lewin het in 1963 Unisa se voordraerslisensiaat verwerf asook beurse waarmee sy in die buiteland gestudeer het. Op die Internasionale Tjelloweek in 1969 in Nederland is sy as die beste tjellis aangewys, waarna sy ’n suksesvolle sololoopbaan in onder meer die SAUK-orkes, die Natalse Filharmonie en die Truk-orkes gehad het. Sy het deeltyds by die Universiteit van die Witwatersrand les gegee en was 12 jaar lank aan die Pro Arte Alphen Park High School in Pretoria verbonde. Van 2012 het sy tjello aan die Universiteit van Kaapstad gegee.

Lewin was ook ’n bedrywige kamermusikus. Sy was 34 jaar lank lid van die Alma-klaviertrio en het ook haar gewig by die Rosamunde-strykkwartet, die Trio Hemanay en die I Grandi Violoncellisti ingegooi.

Sy was gesog as eksaminator en was ’n gereelde beoordelaar in Unisa se internasionale strykkompetisies en het in die beoordelaarspanele van die Stellenbosch-concertofees en die Kunstekaap-musiekkompetisie gedien.

In 1998 is sy deur die dagblad Beeld as een van die tien beste musici in die land aangewys en in 2010 het die Universiteit Stellenbosch die prestigeryke Parnassus-prys vir haar bydrae tot musiek aan haar toegeken.

Kimmel sê Lewin se versoek was dat geen begrafnisdiens vir haar gehou en geen grafsteen opgerig word nie. “Sy wil deur haar musiek onthou word, wat haar lewe was.”

Kimmel het in ’n roerende boodskap gesê sy laat haar geliefde familie, leerlinge en kollegas agter.

Sy het nooit kwaaivriende gemaak nie, het talle mense se lewens geraak en baie s’n verander – van verhoogpersoneel tot wêreldbekende soliste.

“Gedenk haar lewe deur na haar musiek te luister en maak dalk ’n skenking aan ’n liefdadigheidsorganisasie, sy sou daarvan gehou het. Sy was meer werd as robyne.”

Sy word oorleef deur Kimmel, met wie sy 55 jaar getroud was, en drie seuns, Brian, Gary en Warren, asook kleinkinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.