Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Droom vir kinderkoor se nuwe dirigent bewaarheid
Werner Stander dirigeer in die Anglikaanse Katedraal vir die stadskoor cantando@bloem.

As jong 17-jarige musikant lig hy vir die eerste keer sy hande as dirigent van die Cantu Maluti-jeugkoor op. Nooit het Werner Stander toe besef dat hy 15 jaar later as dirigent van die Bloemfonteinse Kinderkoor aangestel sou word nie.

“Wanneer jou passie en jou lewensdoel met mekaar in lyn kom, dan leef jy ’n vol en gelukkige lewe,” sê Stander (32), wat vandeesweek as die nuwe dirigent van die Bloemfonteinse Kinderkoor aangewys is.

Stander, wat al van kindsbeen af ’n passie vir musiek het, sê sy talent is eers in sy hoërskooljare by die Ladybird Arts Academy in Ladybrand ontgin.

Kyk, ’n koor wat goed is, oefen hard en dit gaan ons vir seker doen. Maar op ’n manier wat verseker dit is ’n doeltreffende leerskool vir die kind.

“As jong seun het ’n mens by die musiekskool altyd net van twee kore in die land gehoor: Die Drakensbergse Seunskoor en die Bloemfonteinse Kinderkoor,” sê hy.

“Dit was nog altyd net ’n droom om betrokke te raak by een van dié kore en wat ’n seën is dit nie nou om as die dirigent aangewys te word nie.”

Die Bloemfonteinse Kinderkoor en Stander is in dieselfde jaar gebore en dit voel vir hom soos ’n volle omwenteling om nou dié koor te kan begelei.

Dr. Huibrie Verster, stigter en voormalige dirigent van die Bloemfonteinse Kinderkoor, het vroeër vanjaar aangekondig die koor sluit.

‘n Jong Werner Stander nog as hoërskoolleerling aan die Ladybird Arts Academy in Ladybrand. Hier is hy dirigent van die Cantu Maluti-jeugkoor se konsert.

Stander sê die blote feit dat die koor kan voortbestaan, is vir hom ’n wonderlike geleentheid.

“Die koor het al soveel jare vir so baie mense iets beteken en ek glo dit gaan nog vir baie jare vir baie mense iets beteken.”

Stander, ’n musiekonderwyser by die Primêre Meisieskool Oranje, sê die kind wat in 1987 in die koor gesing het, verskil heeltemal van die kind wat in 2020 in die koor sing.

“Die kinders toe het baie meer tyd gehad as wat die kinders van vandag het. Kinders is deesdae baie bedrywig en alewig met buitemuurse aktiwiteite besig. Ons sal die oefentye van die koor volgens die hedendaagse kind moet aanpas om te verseker dat hulle nie gesinstyd hoef prys te gee of tussen sport en kultuur moet kies nie,” sê Stander.

“Kyk, ’n koor wat goed is, oefen hard en dit gaan ons vir seker doen. Maar op ’n manier wat verseker dit is ’n doeltreffende leerskool vir die kind.”

Dit was nog altyd net ’n droom om betrokke te raak by een van dié kore en wat ’n seën is dit nie nou om as die dirigent aangewys te word nie.

Stander sê hy glo die kinders moet in die koor vaardighede aanleer wat hulle hul lewe lank sal kan gebruik en nie net leer hoe om ’n liedjie pragtig op te voer nie.

Elke de Witt, ondervoorsitter van die Bloemfonteinse Kinderkoor, sê die bestuurskomitee het met Verster se uittrede eers informele onderhoude met hoogs gekwalifiseerde kandidate gehou om die water oor die koor se voortbestaan te toets.

“Twee van dié kandidate het sterk na vore getree en tussen die twee het ons vir Werner gekies. Met die aanstelling van ’n nuwe musiekdirekteur betree ons ’n nuwe era waar daar nie net na ’n tradisionele koorprogram teruggekeer word nie, maar ook nuwe, opwindende en unieke musikale benaderings op die proef gestel word.”

De Witt sê dit is ook vir haar aangenaam om te meld dat 33 kinders van die bestaande koorgroep reeds hul deelname bevestig het.

Stander sê die meeste van die kooroudisies sal elektronies gedoen word, maar voorsiening sal ook getref word vir kinders wat ’n fisieke oudisie verlang.

“Dit is belangrik dat ’n wye spektrum van kinders die geleentheid gegun word om deel van die koor te wees en ’n verskeidenheid van skole se talent in die koor verteenwoordig word.”

Meer oor:  Werner Stander
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.