Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Du Plessis bring Big Band-klanke na Pretoria
Charl du Plessis

Tempo, letterlik of figuurlik, is ’n uiters belangrike begrip in musici se lewens.

En Charl du Plessis, ons Steinway-pianis, is op die snelbaan in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

Ná sy onlangse optredes by die Woordfees, die Wakkerstroom Musiekfees en die KKNK, laat hy sy gehore se monde oophang met sy energieke en kreatiewe kunstenaarskap – iets wat nie vanself kom nie, maar vindingrykheid verg.

’n Nuwe, bygevoegde dimensie in sy lewe is dít wat bekend staan as die Big Band Boogie Woogie in kombinasie met sy bekende trio, maar met die byvoeging van Juan Oosthuizen (kitaar), Matthew Lombard en Yusuf Justin Holcroft (saxofoon), Speedy Kobak (tromboon) en Donny Bouwer (trompet).

Eerskomende naweek is dit dié Big Band se debuut in die noorde nadat dit by vanjaar se KKNK vir ’n Kanna benoem is as beste musiekproduksie: Saterdag om 20:00 en Sondag om 15:00 in Pretoria se Atterbury-teater, Lynnwood Bridge, Lynnwood Manor.

Hy verduidelik die verskille tussen die tradisionele Glen Miller-klank en wat Du Plessis in sy verwerkings bereik: “Ek gebruik ander jazz-harmoniseringstegnieke wat ’n meer deursigtige tekstuur het. Die gevolg is dat die balans tussen die ritmeseksie en die koperblasers nou eweredig versprei is.

“Die moderne uitvoerings van big band word deurgaans versterk en alles word deur die klankstelsel na die luisteraar gestuur – nog ’n hulpmiddel wat die big band-effek vestig,” sê Du Plessis.

In dié program word nie net musiek van Duke Ellington, Count Basie en Miller ingesluit nie, maar ook eietydse jazzkomposisies en enkeles van Du Plessis self.

Vir hom is een van die grootste uitdagings die
boogie-woogie-styl: “Dit word byna nooit in Suid-Afrika gehoor nie omdat die tegniese vaardigheid in die linkerhand baie uitdagend is.”

Op ’n internasionale vlak kry die Charl du Plessis Trio, met Werner Spies (kontrabas) en Hugo Radyn (tromme), steeds meer aandag. Die prestigeryke Switserse platemaatskappy, Claves, het ’n kontrak met hulle gesluit en hul eerste uitreiking met jazzverwerkings van Bach, Vivaldi, Scarlatti en Handel verskyn in Oktober.

“Hierdie kontrak is ’n baie groot geleentheid om dié besondere nismark in Europa te kan betree.

“Op ’n persoonlike noot is die voordeel van ouer word dat ek musikaal al hoe meer my ‘eie ding’ kan doen en nie slegs gemotiveer word deur die verwagtinge van die puriste in die jazz- of klassieke wêreld nie”.

Dit beteken dat algaande ’n meer individuele soort produk vorm aanneem en dit maak hom baie opgewonde.

Die Charl du Plessis Trio neem vanjaar ook ’n lewendige DVD op met hul agtste optrede op die Musikdorf Ernen se jaarlikse musiekfees.

Die fees bestaan ruim 30 jaar en lok topmusici vanoor die wêreld heen.

Dié DVD wat ook ’n agter-die-skerms-dokumentêr bied van die trio se Switserse konsert, sal aan die einde van 2016 op plaaslike TV uitgesaai word.

Kaartjies vir die konserte in die Atterburyteater kos va R130 tot R210. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Charl Du Plessis  |  Woordfees  |  Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.