Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Dubbelsangtalent-en-Coke

’n Mentor op The Voice, aanbieder van sy eie TV-program en nou ook entrepreneur - Francois van Coke is deesdae veel meer as die voorsanger van Fokofpolisiekar, skryf Jaco Nel.

Francois van Coke is deesdae te sien op twee gewilde programme op kykNET en M-Net. Foto: Elizabeth Sejake

Die sanger Francois van Coke het die afgelope dekade bekend geword as ’n ondergrondse Afrikaanse rockster met heelwat omstredenheid wat sy orkes, Fokofpolisiekar, saam met hom aangehits het.

Vandag, as ’n 38-jarige pa, het die fokus om sy musiek te verkondig in ’n splinternuwe leefstyl as televisie-aanbieder verander – maar steeds met baie bier in die prentjie.

Francois van Coke en Chezelle Shahadat het mekaar gevind op M-Net se The Voice.Foto: Elizabeth Sejake

’n Nuwe gesig op ‘The Voice SA’

’n Werklose sangeres van Zimbabwe het amper vir Van Coke in trane gehad. Juis oor hoe sy so mooi, maar kliphard, volumes soos ’n metalsanger met haar stembande kan gooi. Met haar donker spookstem het sy veral ook ’n liefde vir Fokofpolisiekar se musiek.

In die splinternuwe reeks van The Voice SA het sowel Van Coke as die Gautengse rapper Riky Rick dié Zim-meisie “gekies” die oomblik toe sy so “hardcore begin brul”. Albei manne het dié realiteitsprogram se rooi knoppies gedruk sodat hul sitplekke kan omdraai om haar te ontmoet. En só moes Chezelle Shahadat (40) slegs een van haar “aanhangers” kies. Sonder enige kompromie het sy Van Coke gekies.

Sy sê daar is ’n baie goeie rede: “Ek hou nie van hip-hop nie. Jammer, maar Riky se musiek is merendeels waarna my kinders sal luister.”

Van Coke sê hy was sommer emosioneel. “Ek het darem, net-net, nie gehuil nie,” sê hy. “Ek was verbaas, want dit lyk net soos ’n gewone meisie wat skielik soos ’n metalsanger begin tekere gaan. Amazing. Haar tipe stem is iets wat ek nog nooit vantevore ervaar het nie.”

Shahadat sê skugter aan Rapport: “Ja, ek kan nie Afrikaans praat nie, maar ek luister al jare lank na Afrikaanse rockmusiek.

“My gunsteling- Afrikaanse liedjie is Fokofpolisiekar se “Fokofpolisiekar”. My kinders hou glad nie daarvan as ek dit vir hulle speel nie. Hulle hou nie van die vloekwoorde nie.”

Fokofpolisiekar se Fokof Bar maak dié naweek in Pretoria oop.

Van Coke sê hy is veral beïndruk deur die verskeidenheid van die talent wat elke dag op The Voice verskyn.

Veral Shahadat. Hy vertel met hoendervel hoe sy Sound of Silence as haar inskrywingsliedjie gebruik het. Hy sê dit het glad nie geklink soos Simon & Garfunkel se weergawe wat in 1964 ’n treffer geword het nie. “Dit het harder geklink soos die metalgroep Disturbed, wat dié liedjie (in 2015) oorgedoen het,” sê Van Coke. “Regtig, ek kon nie glo wat ek gehoor het nie. Ek sê weer: amazing.”

Shahadat, ’n enkelouer met drie kinders, sê sy het in verskeie dorpies in Zimbabwe grootgeword. Die afgelope 12 jaar het sy in Germiston gewoon en in die vervoerwese gewerk. ’n Paar maande gelede is sy afgedank en het vandag steeds nie ’n werk nie.

“Nou moet my passie maar dringend begin vlamvat,” sê Shahadat. “Ek moet op ’n manier weer probeer om my lewe aan die gang te kry. Ek hou nog altyd van rockmusiek en ek wil nog altyd baie graag ’n professionele sanger word.”

By die Fokof Bar kan jy Fokof Lager koop.

Van Coke, Riky Rick en Riana Nel is die nuwe mentors van The Voice. Die sangeres Lira is die enigste mentor wat ook aan die eerste twee seisoene deelgeneem het. Karen Zoid, Bobby van Jaarsveld en Kahn Morbee (van The Parlotones) is almal deur die nuwe gesigte vervang.

Van Coke, ook aanbieder van Die Van Coke Show op kykNET, sê hy leer baie, want kommersiële televisieprogramme is glad nie hoe sy loopbaan afgeskop het nie.

Lani Lombard, woordvoerder van M-Net, sê die uiteenlopende persoonlikhede van The Voice se nuwe mentors gee die program ’n onvoorspelbare vonk.

“Wanneer meer as een van die mentors omdraai in die program se ikoniese rooi stoele wanneer hulle hou van wat hulle hoor, weet ’n mens nooit wie die talent op die verhoog as sy of haar mentor gaan kies nie,” sê Lombard. “Veral nie wanneer Francois en Riky mekaar met slim woorde die stryd aansê om die talent in hul spanne te kry nie.”

Sy sê daar is nogal veral ’n “bromance” tussen Francois en Riky, en dís hoekom hulle gereeld dieselfde deelnemers gaan kies.

’n Nuwe kroeg in Pretoria

Van Coke sê wel sy “nuwe lewe” is vir hom heeltemal vreemd, maar gister het hy en sy Bellville-makkers nog ’n kroeg in Pretoria ook bekend gestel. Van Coke en die res van Fokofpolisiekar het lankal begin met ’n tweede inkomste: bier. Hul Fokof Lager is ’n baie gewilde drankie wat deur Devil’s Peak se brouery in Kaapstad gemaak word. Dit het eintlik só gewild geraak dat verskeie kroeë landwyd Fokof Lager-tapbier begin verkoop het. Nou gaan dié rockers self hul bier by die splinternuwe Fokof Bar smous.

Snake Venter, tromspeler, sê hulle wou aanvanklik die kroeg in Bellville oopgemaak het, waar hulle vandaan kom. “Maar Pretoria is die grootse Afrikaanse stad in die wêreld,” sê hy. “En ons hou gereeld daar konserte. Ons het ’n plek nodig met baie mense, en daar kan ons nie verkeerd gaan met Afrikaners wat hou van bier nie.”

  • ¦
Meer oor:  The Voice  |  Francois Van Coke  |  Tv-Program  |  Fokofpolisiekar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.