Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Duitse violis in soloprogram in PE

Alissa Margulis, die Duitse violis wat onlangs Bruch se vioolconcerto saam met die Vrystaatse simfonieorkes (FSSO) en die Kaapse Filharmoniese Orkes (KFO) uitgevoer het, lewer die eerste week in September in Port Elizabeth ’n soloprogram met Luis Magalhães voor die klavier.

Alissa Margulis

Dié internasionale violis het in ’n musikale Russiese gesin in Freiburg grootgeword en het onder meer in Keulen, Duitsland, gestudeer.

Haar CV bevat lang lyste van bekende dirigente en simfonieorkeste, belangrike konsertsale, groot musiekfeeste en ’n menigte kompetisies waarin sy sedert haar tienerjare pryse gewen het.

Wat ’n mens egter tussen al die name opval, is die musici wat saam met haar in kamermusiek optree, almal voorste instrumentaliste soos Martha Argerich, Ivry Gitlis, Mischa Maisky, Gidon Kremer en Yuri Bashmet.

Argerich, ’n Argentynse pianis, het Margulis as ’n violis met ’n “sterk musikale persoonlikheid” beskryf, terwyl die Israeliese violis Gitlis haar spel as “uitsonderlik” bestempel.

Sy het reeds verskeie CD’s opgeneem, waarvan verskeie EMI-uitreikings met die Franse Diapason d’Or bekroon is.

Haar repertorium sluit van Barok tot kontemporêre musiek in, en op haar CD’s is werke van onder andere Mozart, Sjostakowitsj, Enescu, Beethoven en Messiaen. Sy het ook die volledige musiek vir viool en klavier van Franz Liszt opgeneem en is die solis in Piazzolla se Vier seisoenevir Buenos Aires.

Internasionale stigtings wat aan haar beurse gegee het, sluit in die Deutsche Stiftung Musikleben, die Marie-Luise Imbusch-Stiftung, die Förderkreis Mannheim en die Verbier Festival Academy.

Magalhães is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (UV) en is bekend as solis, begeleier en kamermusikus. Hy en sy eggenoot, Nina Schumann, tree gereeld as duo onder die naam TwoPianists op. Hulle het ook CD’s saam opgeneem.

Hul program sluit die volgende werke in: Vier romantiese stukke deur Dvorak, Beethoven se Kreutzer-sonate, Ysaÿe se Poème Elegiaque asook Prokofiëf se Sonate nr. 2 in D majeur.

*3 September om 19:30 in die Nelson Mandela-Universiteit se suidkampus-ouditorium. Die kaartjies is by die deur vir R95 (volwassenes), R80 (pensioenarisse), R40 (studente) en R35 (leerlinge) te koop.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.