Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Duo skitter in 1ste verhoog-konsert ná inperking

Anmari van der Westhuizen (tjello) en Anneke Lamont (klavier) het die eerste uitvoering voor ’n gehoor in ’n Bloemfonteinse teater gegee sedert die inperking in Maart 2020 begin het.

Dit was nou wel nie in ’n formele teater nie, maar in Universitas se Geloofsentrum. Dit is gedoen omdat die publiek nog nie tot die Kovsie-kampus toegang het waar die aanbieder, die Odeion-Skool vir Musiek (OSM), se konserte gehou word nie.

Anmari van der Westhuizen (links) en Anneke Lamont.

Benewens Van der Westhuizen en Lamont se internasionale opleiding en statuur, word hulle ook op grond van hul uiteenlopende musiekpalet aangeslaan. Hulle het ’n opwindende program van drie werke saamgestel wat hul eiesoortige deugde en vaardighede ten toon stel.

Eerste aan die beurt was Ludwig van Beethoven (1770 – 1827) se Sewe Variasies oor “Bei Männern, welche Liebe fühlen” uit die Mozart-opera Die Zauberflöte.

Hulle het ’n sobere en moeitelose uitvoering van die werk met soliede intonasie en ’n timbre soos suiwer glas gekomplementeer. Terselfdertyd het hulle deeglik gestand gedoen aan die styl van die klassieke tydperk en natuurlik aan die komponis self.

Die Sonate in D majeur op. 78 vir viool en klavier van Johannes Brahms (1833 – 1897) is uiteraard bekend aan klassieke musiekliefhebbers. In dié geval het die musici die getranskribeerde weergawe van die werk vir tjello en klavier voorgedra en is die luisteraars op geen vlak teleurgestel nie.

Hoewel dié weergawe aanvanklik vreemd op die oor val, komplementeer die tjello se melancholiese en donker timbre die pragtige melodieë. Van der Westhuizen is bekend as ’n gerekende Brahms-eksponent en lewer dienooreenkomstig ’n uitstekende uitvoering in noue samewerking met die pianis.

Lamont was so solied soos die rots van Gibraltar en het ’n dig geweefde klank gelewer, sinvol gekontrasteer met goeie artikulasie en deursigtigheid.

Laaste op die program was David Popper (1843 – 1913) se “Fantasie über Kleinrussische Lieder”, op. 43. Dié ontsettend tegnies veeleisende werk is met die nodige chutzpah en virtuositeit uitgevoer.

Die tjellis Marc Moskovitz het op ’n keer gesê: “Hoewel Popper soms as die Paganini van die tjello beskou word, streef hy daadwerklik daarna om musiek met ’n sterk melodiese karakter en diepsinnigheid te komponeer.”

Esteties neem Popper sy inspirasie uit die palet van Russiese volksmusiek en is suggesties van Joodse liturgiese musiek plek-plek waarneembaar. Die werk is besaai met dramatiese tempo’s, ritmiese skommelings, rubato’s en glissandi. Snelbewegende dubbelgrepe word deur gebalanseerde akkoordstrukture gekomplementeer met melodiese spronge wat uitermate hoog geregistreer is.

Die gehoor verloor nooit die bewustheid van die kernmelodie wat knap deur die hele werk geweef is nie. Met die uitvoering van dié werk slaag die duo daarin om die karakter van Popper se wense manjifiek weer te gee.

’n Dawerende applous het die gehoor met 'n gepaste toegif beloon – “Wie einst in schöner’n Tage” op. 64, nr. 1, ook deur Popper.

In teenstelling met die meeste duo’s, waar die solis dikwels oorheers en die begeleier gewoonlik by wyse van spreke tweede viool speel, musiseer Van der Westhuizen en Lamont as gelykwaardig musikale vennote. Bravo!

Meer oor:  Odeion Skool Vir Musiek  |  Klavier  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.