Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Eerste hip-hopmusiekspel in NamAfrikaans op KKNK
David Kramer en V.I.T.O.Foto: Ineke Coetzee

Vito se liedjies het David Kramer letterlik in sy spore laat omdraai. Nou werk die twee saam aan Amper Famous, die Afrikaanse hip-hopmusiekspel wat in April op die KKNK open.

Kramer vertel hy loop al ’n ruk met die idee in sy kop om ’n hip-hopmusiekspel op te voer. Toe hy ’n tyd gelede in Namakwaland was, gee die jong kunstenaar vir hom ’n CD wat tuis opgeneem is om na te luister.

“Ek het dit in my CD-speler in die kar gesit op pad huis toe. Ek het na die eerste lied geluister en na die tweede. Ná die derde draai ek net daar om en gaan terug om met hom oor die moontlikheid van saamwerk te gaan praat.”

Vito (wat vir die verhoog sy naam V.I.T.O. uitspel) vertel dat hy dit maar moeilik gehad het om sy droom te begin uitleef.

“Ek is maar net hierdie outjie van Namakwaland wat daarvan gedroom het om famous te wees. Dis moeilik om hier my vriende en familie te oortuig van wat ek doen. Ek rap al van skooldae af, maar die mense het my uitgelag omdat ek dit in Afrikaans doen. Ek het glad nie gelyk of geklink soos die rappers van Amerika nie.”

Die stories wat hy deur kletsrym in sy liedjies vertel, is wat hy self deurgemaak het, van sy mense en hul omstandighede en van dinge wat vir hom saak maak. Daar is ’n liefdesdriehoek ook in die stuk.

“Mense het soms die verkeerde indruk van hip-hop en rap,” sê Vito. “Ek hou my weg van die vloekery af, al is dit mos maar eie aan Namakwaland. Ek gebruik NamAfrikaans. Dis hoe ons die taal hier praat en die woorde wat ons hier gebruik. Ek is trots op die taal en ek beskryf dit in die een liedjie ‘Trots’. Ek wil ander mense laat hoor hoe dit klink.”

Hy glo oud en jonk kan saam na sy musiek luister en dit sal vir baie ’n verrassing wees. Dalk trek dit nuwe aanhangers na dié genre.

Kramer beskryf sy hip-hop as meer soos popmusiek en sy ritmes as maklik verteerbaar.

“Kom ons noem dit maar hip-hop light,” korswel hy. Maar hy voeg by niks aan hip hop of rap is maklik nie.

“Ek kan dit nie doen nie,” erken hy. “Vito skryf ook baie mooi melodieë en koorstukkies met baie mooi invalshoeke. Hy het ook al ’n hele paar treffers op die internet.”

Vito weet nie eens hoeveel liedjies hy al geskryf het nie. 14 van hulle sal in die uitvoering gehoor word. Saam met hom in die rolverdeling is Anray Amansure en Rushney Ferguson. Kramer doen die regie en is die vervaardiger.

Al is Vito nog nie so bekend in die Kaap nie, ken die plattelandse tieners hom goed.

As hulle na skole op die platteland kom, sing die kinders sy liedjies hartlik saam en die meisies raak opgewonde as hulle hom sien.

Vito lyk verleë as hierdie inligting uitkom, maar hy behoort te weet dis nou maar die pad wat iemand wat van bekendheid gedroom het, sal moet stap. Soos die naam van die musiekspel sê – hy is nou Amper Famous.

*Amper Famous word van 8 tot 11 en van 13 tot 15 April in die Gimsaal by die KKNK opgevoer. Bespreek by Computicket.

*Gaan kyk na Vito op YouTube by https://youtu.be/eKFJqepVNqs en https://youtu.be/O-bpV8HWr94

Meer oor:  Hip-Hop  |  David Kramer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.