Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Eerste opera in maande op planke in Kaapstad

Onwerklik. Wonderlik. Genesend.

Só beskryf die regisseur Steven Stead die vervaardiging van ’n opera tydens ’n pandemie – ’n byna onbegonne taak wat hy nou aanpak om weer lewe in die plaaslike operabedryf te blaas.

Steven Stead (links), regisseur van ‘Cosi fan tutte’, neffens Jeremy Silver, dirigent en hoof van die Universiteit van Kaapstad se operaskool.

Kaapstad Opera en die Universiteit van Kaapstad se operaskool bied einde vandeesmaand ’n kort speelvak van Mozart se 1790-opera, Così fan tutte, in die Baxter-teater in Kaapstad aan. Dit is volgens hulle die eerste operaproduksie in Suid-Afrika sedert die begin van die staat van inperking in Maart.

Stead vertel hy het sy planne vir die aanbieding van dié komiese opera reeds in Januarie uitgelê en beplan om dit in Julie en Augustus op die planke te bring, maar dit is weens die pandemie uitgestel. Hy sê dié spesifieke opera is egter gepas om gehore nou ná ’n lang stilte weer in die teater te verwelkom.

“Vir eers omdat die musiek so beeldskoon, ingewikkeld en ekspressief is. Dit is goed om te hoor en ons is almal uitgehonger vir lewende musiek,” sê hy.

“Tweedens omdat dit afleiding bied en innemend, maar geensins vlak is nie. Die opera ondersoek en vier wat dit beteken om mens te wees – morsige ingewikkeldheid en al – en die hemel weet, ons het almal genoeg tyd gehad om oor ons eie broosheid en tekortkominge te besin.”

Die vervaardiging van die opera sien ietwat anders uit as voorheen en het weens veiligheids- en voorsorgmaatreëls ’n nuwe stel uitdagings aan Stead en sy span gestel.

“Die mees voor die hand liggende verskil is die gebruik van persoonlike beskermde toerusting,” sê Stead.

“Nóg die sangers, nóg ek en my kollegas is gewoond daaraan om met maskers en skerms te repeteer. Dit hinder ons kommunikasie. Die skerms wat die sangers dra wanneer hulle sing, is baie verwarrend omdat jou eie stem terugbons nog voordat jy die klank van die klavier of die ander sangers hoor, so dit is ’n uitdaging om musiek te maak.”

Ek dink ons ervaar nou ’n soortgelyke soort skok: Wat ons eens gedink het heeltyds en duursaam is, is geheel en al deur die pandemie vernietig – veral in ons bedryf.
Steven Stead

Dit is ook ingewikkelder om regie te doen, sê hy.

“Die maskers wat ek en die dirigent dra, beteken ook die sangers kan nie ons uitdrukkings sien nie, so dit is baie moeilik om ook ons emosies en motiverings te kommunikeer.

“My werk is fisiek: Ek is daaraan gewoond om drukkies te gee, vas te hou, en akteurs te help om te beweeg. Dit kan ek nie meer doen nie – en wanneer ek regtig moet, moet ek eers ontsmet! Ek is nogtans steeds baie dankbaar om weer te werk.”

Die opera vertel die verhaal van ’n ou grompot wat twee van sy vriende uitdaag oor die lojaliteit van hul verloofdes. Hulle gaan ’n weddenskap aan om dié lojaliteit te toets – wat tot skreeusnaakse misverstande en onvermydelike botsings lei.

Stead het Lorenzo da Ponte se oorspronklike libretto ietwat gemoderniseer – die opera speel nou in 1910 af, wat Stead beskryf as ’n “era van relatiewe onskuld en selfvoldaanheid” voordat dit deur twee wêreldoorloë versteur is.

“Ek dink ons ervaar nou ’n soortgelyke soort skok: Wat ons eens gedink het heeltyds en duursaam is, is geheel en al deur die pandemie vernietig – veral in ons bedryf,” sê hy.

“Die ligte in teaters van Broadway tot die Weseinde is in Maart binne 48 uur alles afgeskakel – met geen heropeningsdatum in sig nie – maar dit is natuurlik nie net die kunste wat beïnvloed is nie.

Così gaan uiteindelik oor die verlies van onskuld weens lyding en ondervinding. Ek dink dít is iets wat betrekking op ons almal het, veral in hierdie tyd.”

Die opera gaan vier keer met twee verskillende rolverdelings aangebied word – een met onder andere Nombulelo Yende, Siphokazi Molteno, Brittany Smith, Keanan Mitchell, Siphe Kwani en Yonwaba Mbo in die hoofrolle, en ’n tweede met Moloko Letsoalo, Ané Pretorius, Jodie Khan, Makudu Senaoana, Lwazi Dlamini en Sakhiwe Mkosana.

Weens die Covid-regulasies gaan die vertoning nie soos voorheen beplan met ’n operakoor aangebied word nie, maar met ’n kleiner groep sangers. Hulle sal almal deur die UK-simfonieorkes onder leiding van Jeremy Silver begelei word.

Operaliefhebbers moet weet dat die teater net halfvol sal wees en dat hulle nie meer as twee sitplekke langs mekaar sal kan bespreek nie. Maskers is verpligtend, gesonde afstande sal gehandhaaf moet word en handreiniger sal in die teater beskikbaar wees.

Kaartjiepryse vir die vertonings op 28, 29 en 30 Oktober om 19:00 en 31 Oktober om 15:00 wissel tussen R150 en R275. Bespreek by Webtickets of Pick n Pay-winkels. Kaartjies sal nié by die kaartjiekantoor in die Baxter verkoop word nie.

Besoek capetownopera.co.za vir meer inligting.

Meer oor:  Baxter  |  Baxter-Teater  |  Mozart  |  Broadway  |  Universiteit Van Kaapstad  |  Kaapstad Opera  |  Musiek  |  Opera  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.