Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Eet Kreef herleef so vars soos 30 jaar gelede
Die Eet Kreef Herleef-groep bestaan uit Mikhaela Kruger (klawerbord), Laudo Liebenberg (sang, ritmekitaar), Frank Freeman (leierkitaar), Sheldon Yoko (perkussie) en Schalk van der Merwe (baskitaar).Foto: Jurie Neethling/Vetmandesigns

Die gewildheid van die vertonings waarin die ikoniese album Eet Kreef dertig jaar later nuwe lewe kry, was ’n groot verrassing. Chutney de Ridder gesels met die jong musikant wat die projek op die been gebring het.

Die reaksie van mense wat sedert Julie vanjaar die vier Eet Kreef!-vertonings beleef het, was ’n bietjie oorweldigend. En totaal onverwags.

So sê Frank Freeman, nou se dae ’n gerekende huursoldaat in die musiekbedryf, wat onder meer vir Arno Carstens tydens optredes die nodige lawaai op kitaar verskaf.

Dit was juis ’n gesprek met dié voormalige voorsanger van die Springbok Nude Girls wat gelei het tot die Eet Kreef-projek, dertig jaar nadat Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band (GBB) se ikoniese album oorspronklik uitgereik is. Toe Freeman, in sy eie woorde, “minus vier jaar oud” was.

“Ons was op pad na ’n gig in Pretoria, Arno en ek, toe ek noem dat ek lus is om iets in Afrikaans aan te pak,” verduidelik die 26-jarige gebore Bloemfonteiner.

Laudo Liebenberg (sang) en Frank Freeman (kitaar) laat waai tydens die Eet Kreef-vertoning by die Jagger Lounge in Kaapstad. Foto: Jurie Neethling/Vetmandesigns

“Ek het in daardie stadium, seker so ’n jaar gelede, Johannes Kerkorrel se musiek herontdek. Ook baie na Wie is Bernoldus Niemand (James Phillips se alter ego) geluister. Destyds se alternatiewe Afrikaans.

“My plan was om iets rondom Kerkorrel se musiek te doen. Toe sê Arno: ‘wat van Eet Kreef! . . . hoekom nie?’ Ek het dadelik van die idee gehou, maar eers later besef drie dekades het verloop sedert die album uitgereik is.”

Vier vertonings later, na ’n “senutergende” debuut by die Vrystaat-fees in Freeman se geboortestad, is daar skynbaar geen perke aan die gewildheid van die produksie nie.

“Ons het nie geweet wát om by die eerste vertonings te verwag nie. Eet Kreef is immers ’n ikoniese album. Amper heilig in sommige mense se oë.

“Ek het uit die staanspoor gesê dit is nie ’n Kerkorrel-tribute nie. Dis ons vertolking van die musiek. Verwerk met die grootste eerbied en respek.”

Dié benadering het vrugte afgewerp.

Die projek is pas benoem vir ’n KykNet-Fiesta in die kategorie Beste Musiekgedrewe Produksie. Die wenner word op 9 Februarie aangewys.

Die regstreekse ateljee-opname van die album (gedoen by Sunset Recording Studios buite Stellenbosch) is nou op verskeie digitale platforms soos Spotify, Apple Music en Google Play beskikbaar en gaan binnekort ook op CD uitgereik word. Die titel, heel gepas, is Eet Kreef Herleef.

Sedertdien is daar ook versoeke vir optredes.

Die jaar word afgesluit met ’n laaste intieme vertoning, op 18 Desember by Evita se Perron in Darling. In die nuwe jaar is hulle Woordfees toe genooi. Op 15 Maart in Stellenbosch by die Spier-amfiteater. En op 27 en 28 Maart maak Eet Kreef Herleef sy debuut in Gauteng met vertonings in Pretoria se Atterbury-teater.

“Ja, totaal onverwags, dié reaksie. ’n Bietjie oorweldigend, om eerlik te wees. En al wat ek wou doen was om die album wat in 1989 soveel mense geroer het, weer af te stof. Ongeag wie weer in 2019 daarna wou luister,” verduidelik Freeman.

Gedurende die gesprek herhaal hy vier, vyf keer die woord “respek”.

“Dit was vir my belangrik om die musikale balans te vind tussen hoe Eet Kreef in 1989 geklink het en hoe ons dit in verwerkte vorm drie dekades later wou aanbied. Ons moes respek betoon aan Kerkorrel en die GBB. Maar ons moes ook wys dat dit hier en nou ’n nuwe lewe het.”

‘Eet Kreef Herleef’ word aangedryf deur Laudo Liebenberg (links) se sterk sangstem en Frank Freeman op leierkitaar. Foto: Jurie Neethling/Vetmandesigns

Wat begin het as ’n projek om die spinnerakke af te skud van musiek uit die sogenaamde alternatiewe Afrikaanse era, het gou ’n onvoorsiende rigting ingeslaan.

“Na ons heel eerste show, en sedertdien by elke vertoning, het gesprekke tussen mense wat daar was hoofsaaklik gegaan oor hoe toepaslik Kerkorrel se lirieke steeds op die hedendaagse (politieke en maatskaplike) situasie in Suid-Afrika is,” sê Freeman.

“Dit het my laat besef ons het hier met meer as bloot ’n musiekproduksie te doen. Die content, die boodskap van drie dekades gelede, het stééds trefkrag. Dit hou nog in 2019 water.

“Dit geld nie net diegene wat destyds oud genoeg was om die gravitas van die oorspronklike Eet Kreef te begryp nie, dit raak ook mense wat ná 1989 gebore is, ons jong mense, die Born Free-generasie.”

En was daar reaksie van die oorblywende lede van die GBB?

“Ja, ek het ons opnames vir Jannie (Hanepoot) van Tonder gestuur,” sê Freeman.

Hy het as volg gereageer: “Wat vir my uitstaan terwyl ek luister na ‘jong’ mense wat die songs speel, is hoe tydloos meeste van hierdie songs eintlik is. Wanneer ons dit speel word ons teruggevoer na daai complicated dae in die 1980’s, so ons vergeet maklik die universele relevansie van Ralph Rabie se amazing woorde.”

Hy het ook “kritiek” gehad, voeg Freeman vinnig by.

“Wel, hy het gesê ons songs klink soms bietjie té goed. Hy mis daardie angst. Wat ek eintlik as ’n moerse kompliment vertolk. Want ons hét nie die angst van 1989 beleef nie.

“Ons kon nie dáái energie van hulle channel nie. En dis wat ek wou bereik. Ons wou ’n ánder energie bring. Ons wou Eet Kreef in 2019 en daarna laat herleef. Ek dink nogal ons het daarin geslaag.”

Vir Netwerk:

Kyk en luister na Eet Kreef Herleef se:

Liefde:


BMW:


Laai die album hier af: https://distrokid.com/hyperfollow/eetkreef/eet-kreef-herleef

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.