Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Eggo pla in Mozart se swanesang

Sempre Opera – Mozart en Saint-Saëns

Heldesaal, Voortrekkermonument, Pretoria

Oor Mozart se onvoltooide swanesang, sy Requiem in D mineur, K 626, bestaan daar doolhowe van anekdotes wat fassinerende leesstof oor merendeels aannames bied.

Schalk van der Merwe

Sy misterieuse dood op 35, sy oorskot wat in ’n massagraf verdwyn het en die raaisels wat ontstaan het rondom hulle wat die werk voltooi het, dit steeds nog doen en waarby soms selfs forensiese ondersoekwerk betrokke is, bly immers op ’n manier almal van ons prikkel.

Sempre Opera van Pretoria het afgelope Saterdagaand met dié Requiem hul derde uitvoering daarvan oor die afgelope paar jare gelewer. In hierdie geval was die getal drie helaas nie ’n gelukkige een nie. In die heldesaal van Afrikaners se histories beroemdste monument was dit baie moeilik, indien nie haas onmoontlik nie, om die musikale resultate na waarde te skat.

Die akoestiek van hierdie vierkantige mega-boukonstruksie is só omvangryk dat ’n hinderlik lange nagalm van ses sekondes (volgens die kundiges) die resultaat daarvan is. Klank begin letterlik in alle rigtings beweeg en die essensiële deursigtigheid wat ’n merendeels kontrapuntale werk soos hierdie vereis, is onbereikbaar.

Beelde rondom die feit dat die klank as’t ware begin “swem”, het waarskynlik by van die gehoorlede opgekom. In die digste forte-dele het dit geklink asof die tromboon of die pedaalregister van die orrel soos ’n walvis is wat te midde van die see van klank verbyswem.

Wat wel herkenbaar en bevestigbaar was, is dat die kwartet van soliste se vokale prestasies sterk uitgestaan het. Ook die koor is duidelik tot op so ’n hoë vlak gerepeteer, dat die gewenste vlak van intensiteit en oortuiging bereik is. Hoewel die dirigent, Schalk van der Merwe, al sy kragte hoogs professioneel op die vokale kompleksiteit gefokus het, is die orkes met minder dissipline onder bedwang gehou. Die wildheid en volume het ’n grofkollerigheid tot gevolg gehad.

My gevoel was dat hierdie uitvoering sy vorige een in die Weskoppies-ouditorium dalk intrinsiek oortref het, maar dat die verskeie oomblikke van swakker korrelasie en koördinasie tussen die soliste, koor en orkes regstreeks te wyte is aan die bykans onoorkombare negatiewe invloed van hierdie groot eggokamer. Terloops: ’n A capella kooruitvoering van merendeels Renaissancemusiek jare gelede in dieselfde ruimte het bykans ideaal geklink.

Die meer delikate Oratorium de Noël (Kersoratorium)van Saint-Saëns wat min oomblikke van hemelbestormende retoriek bevat en tereg die religieuse eenvoud van die 19de eeuse Franse liturgiese styl na vore bring, het hier in alle opsigte stukke beter geklink.

Die solistiese prestasies van Sempre Opera se voorste sangers het net weer bewys hoe deurslaggewend die bate van hul langdurige insluiting by dié geselskap is. Ook hul deurlopende soeke na kleinnode in die repertorium waarvan gehore vir die eerste keer kennis neem, is uiters lofwaardig.

Hier het Van der Merwe se geesdrif en sensitiwiteit ’n uitvoering tot gevolg gehad wat die Kersboodskap op ongekende, minder konvensionele wyses belig het. Felisitasies is in plek!

Meer oor:  Schalk Van Der Merwe  |  Voortrekkermonument  |  Musiek  |  Opera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.