Die sangers Elandré, Christia Visser, Refentse en Brendan Peyper het hul sololoopbane tydelik opsy geskuif om saam ’n liedjie van hoop vir Suid-Afrika te sing.
Die vierstuks se liedjie “Ons maak saak” is Vrydag (6 Desember) aanlyn uitgereik en is deur Elandré Schwartz en Niel Schoombee geskryf.
“Die boodskap in hierdie liedjie deel in die optimisme wat baie van ons mede-Suid-Afrikaners tans voel,” sê Elandré.
“Jongmense is besig om die fakkel te neem en hul plekke as leiers en baanbrekers in te neem. Die ongehoorde stemme sê hul sê en vier hul verskille.”
Visser sê “dit gaan oor individualiteit, om bo jou omstandighede uit te styg, om mekaar te aanvaar en te ondersteun, en om ook deur jou sukses vir ander ’n pad te berei”.

Elandré. Foto: Shaunté Schaup

Christia Visser. Foto: Argief

Refentse. Foto: Christian Wolf

Brendan Peyper. Foto: Argief
Die groep is deur Schoombee byeengebring juis omdat hulle volgens Elandré “ewe verskillend, tog ewe bereid (is) om vooruit te streef” – ook omdat hulle “al op vele geleenthede agter die skerms saam om die kitaar gesit” het. Dit was belangrik vir hulle om dié liedjie te sing en dit saam te doen, sê Visser.
“Ek voel dis hoog tyd dat ons as jong mense – as kunstenaars wat wegbeweeg van die norm – ook ons stem as ’n span laat hoor.
“Ons is almal so verskillend, maar tog is daar ’n sterk band tussen ons. Ons probeer almal op ons eie manier ’n stukkie van die wêreld verander.”
Elandré las by dit was “nie net goed om by ’n oorspronklike Afrikaanse projek betrokke te kan wees nie, maar ook om vir elkeen te herinner dat hulle saak maak in die verskeie hoeke van ons land. Die strewe en harde werk van elkeen is die moeite werd – vir jouself én dié om jou.”
Hoewel die kwartet weens uitmergelende skedules nie die liedjie saam kon opneem nie, beplan hulle wel om dit tog saam op verhoë landwyd uit te voer.
En moenie te opgewonde raak nie: Die sangers sê hulle het nié ’n nuwe sanggroep gestig nie.
“Dit is eenmalig,” sê Visser. “Ek dink ons is elkeen so sterk as individuele kunstenaars en ons vertel ons eie stories. Ek sal beslis weer saam met hulle wil werk – dis hoe ons saam groei.”
Elandré stem saam. “Dit is nie elke dag wat ’n mens met soveel gedrewe kunstenaars op een slag kan kuier in ’n studio nie, maar ek is so bly ons kon dit laat werk. ’n Sanggroep is nog nie in die vooruitsigte nie, maar ons vind beslis aanklank bymekaar se werk en persoonlikhede.
“As ’n sanggroep wel ontstaan, kan ek sê ek dink ons sal die choreografie bemeester,” grap hy.
Luister die liedjie ook hier.