Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
EKSKLUSIEF: Vanilla se 1ste enkelsnit ’n nuwe Afrikaanse geur

Die nuwe groep Vanilla se eerste enkelsnit, “Nie stilstaan nie”, wat Vrydagoggend op Netwerk24 uitgereik is, klink soos ’n beskrywing van dié vier musikante wat alles met ywer en energie aandurf.

Vanilla se lede, Jaen-Pierre Dowling (baskitaar), Francois Keyser (tromme), Tyan Odendal en Xander Stander (albei op stemme en kitaar), woon almal in die noordelike voorstede van Kaapstad.

Die nuwe Afrikaanse band Vanilla.Foto: Chris Joubert

“Toe ons begin het, was ons ’n Engelse band en ons het regtig gesukkel om op ’n naam te besluit,” sê Dowling. “Ons het toe deur ’n paar opsies gewerk, en uiteindelik besluit op The Vanilla, want dit is een van die roomys geure waaroor ons minder mal is. Ons glo egter daarin om te underpromise and overdeliver en nadat Katlego Maboe (aanbieder) ons op die SABC 3-ontbytprogram Expresso bekend gestel het met: ‘they may call themselves The Vanilla, but there is nothing plain about them’, het ons geweet ons het iets beet. Ons naam is dus presies die teenoorgestelde van wat ons regtig is en dit is iets waarop ons baie trots is . . .”

Die lied “Nie stilstaan nie” het vir hulle van die begin af reg gevoel om as eerste enkelsnit uit te reik.

“Ons het ook gesien dat mense geneig is om emosioneel te reageer daarop,” sê Dowling.

“Reaksies wissel van groot glimlagte met voete wat saam met die ritme op die grond tik tot mense wat stiller sit, maar duidelik ’n deel van hul eie lewe in die lirieke raaksien.”

Die eerste deel van die lied vertel van ’n paartjie wat hulself byna in ’n idilliese situasie bevind, maar dan gebeur iets wat veroorsaak dat die verhouding eindig. Die res van die lied handel oor die tema van die innerlike konflik wat gepaard gaan met wanneer ’n mens jouself in ’n situasie bevind waar ’n liefde uit die verlede weer jou aandag begin kry en aanloklik begin lyk.

Vanilla se eerste enkelsnit is Vrydag eksklusief op Netwerk24 uitgereik.

“Ons glo die liedjie het baie potensiaal omdat die storie so toepaslik is en uit die hart vertel word, so ons weet mense gaan hulle daarmee kan vereenselwig. Ons glo dit is ’n vars klank met slim geskrewe lirieke wat beslis ’n plek in die mark het en ons is regtig opgewonde om dit met almal te deel.”

Die groep skryf gedurig nuwe musiek en lirieke en hulle het ’n goeie idee van waarmee hulle hul eerste enkelsnit sal opvolg.

Hulle het ook al saam met kunstenaars soos Francois van Coke, die Heuwels Fantasties, Karen Zoid, Spoegwolf, Shortstraw, Al Bairre en December Streets opgetree.

Hulle het voorheen in die Engelse bedryf – ’n tydperk waarin hulle baie geleer het.

“Ons het agtergekom dit is baie moeiliker om goeie musiek in Afrikaans te skryf en die uitdaging is vir ons regtig baie lekker,” sê Dowling.

“Afrikaans is ’n ongelooflike taal. Dit is meer as net ons taal – dit is wie ons is. Daar is ’n vryheid wat skuil in die skryf van Afrikaans waarvan ons nooit bewus was nie. Dit dwing jou dadelik om selfs nog eerliker te wees.

Hulle sien ook baie uit na die geleenthede wat Afrikaanse musiek bied.

“Om nou saam met verskeie Afrikaanse kunstenaars moontlik ’n verhoog te kan deel en by die groot Afrikaanse feeste te kan speel, is vir seker iets waaroor ons ongelooflik opgewonde is.”

Meer oor:  Vanilla  |  Musiek  |  Musiekvideo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.