Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Elsenaar bou ‘grootste orrel’ in SA
’n Skets van die massiewe orrel wat die Vrystaatse orrelis en orrelbouer Jan Elsenaar drie tot vier jaar sal neem om te voltooi.

Nuwe pyporrels is steeds in aanvraag al het bands dié “koning van musiekinstrumente” in baie kerke vervang.

Jan Elsenaar, ’n orrelbouer in Brandfort, sê nadat hy die afgelope jare verskeie orrels vir Lutherse en Anglikaanse kerke gebou het, is hy nou versoek om die grootste orrel in Suid-Afrika te bou.

Die projek sal hom en vier assistente drie tot vier jaar neem om te voltooi, wat langer is as die bou van die katedraal waarvoor dit bestem is.

Elsenaar sê die orrel van 8 m hoog sal uit drie manuale, 3 000 pype en twee groot pedaaltorings bestaan.

Die rugwerk, ’n kleiner weergawe van die orrelkas, wat agter die orrelis aangebring word om die klank nader aan die publiek te bring, is volgens Elsenaar ’n unieke element.

Alle houtdele sal van duursame eikehout gemaak word en alle onderdele, behalwe die 100 aansigpype, sal in Brandfort vervaardig word.

Elsenaar sê wanneer die orrel voltooi en speelbaar is, sal dit in duisende onderdele uitmekaar gehaal word om na sy tuiste in die Wes-Kaap vervoer te word.

’n Private persoon, wat beoog om onder meer orrelkonserte in ’n katedraal op sy grond aan te bied, het Elsenaar vir die bou van die massiewe orrel genader.

“Voorheen is orrels van dié omvang met ’n registeraksie en meganiese speelstyl in die buiteland gebou,” sê Elsenaar.

Dié gebore Nederlander het op drie jaar al ’n belangstelling in die orrel getoon en op sy eie gespeel totdat hy op nege jaar in Dordrecht die eerste keer met orrellesse begin het.

Jan Elsenaar

In 1985 het Elsenaar na Suid-Afrika geïmmigreer en sy orrellesse by prof. Stefanus Zondagh in Pretoria en prof. Deon Lamprecht aan die Universiteit van die Vrystaat voortgesit.

Hy is besonder geesdriftig oor improvisasiekuns en gee jare al improvisasiekonserte met ’n geestelike inhoud oral in Suid-Afrika en in die buiteland.

Van die konserttoere het hy saam met die Kanadese orrelis André Knevel en die Nederlandse panfluitspeler Liselotte Rokyta in Europa, Suid-Afrika en Kanada onderneem.

Elsenaar het ook al met Zorada Temmingh op die KKNK saamgespan.

Sy improvisasies op bekende geestelike liedere is op sewe CD’s uitgereik en vanjaar is sy optrede met die bekende Nederlandse orrelis Martin Mans op die CD Orrelfees opgeneem.

Die bou van orrels het egter nie agterweë gebly nie. Nadat Elsenaar ’n vakleerlingskap in Bloemfontein en Johannesburg deurloop het, het hy Protea Orrelbouers begin. Intussen het sy kinders grootgeword en hulle het ook by hul pa se onderneming aangesluit. Die mees onlangse orrel wat hulle gebou het, was vir ’n Lutherse gemeente in KwaZulu-Natal.

Benewens orrelbou is Elsenaar verantwoordelik vir die stem en instandhouding van sowat 250 pyporrels in die Vrystaat en Noord- en Oos-Kaap.

Hy tree as orrelraadgewer vir pyporrels oor die land heen op en is ook streekvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Kerkorreliste-vereniging in die Vrystaat.

Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.