Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Elton John: ‘Lion King is reuse-teleurstelling’

Die Britse popsanger sir Elton John het nie doekies omgedraai toe hy onlangs oor die nuwe weergawe van The Lion King gepols is nie: Hy het dit as ’n “reuse-teleurstelling” beskryf, grootliks weens die musiek wat volgens hom “opgemors” is.

Sir Elton John. Foto: Getty Images

John het ’n leeueaandeel in die klankbaan van die oorspronklike Disney-treffer gehad wat in 1994 uitgereik is. Benewens heelwat liedjies wat hy self gesing het, is hy drie keer by die Oscars benoem vir sy aandeel in die skryf van die liedjies “Circle of Life”, “Hakuna Matata” en “Can You Feel the Love Tonight” – die laasgenoemde wat hom en sir Tim Rice eindelik die goue beeldjie besorg het.

In die nuwe weergawe van die rolprent, wat in Julie vanjaar uitgereik is, pronk John se liedjies weer, maar dié keer word dit deur onder andere Beyoncé, Donald Glover, Billy Eichner en Seth Rogen gesing. Dit het John nié geval nie.

“Musiek was so ’n integrale deel van die oorspronklike (rolprent), en die musiek in die huidige rolprent het net nie dieselfde impak gehad nie. Die magic en blydskap was skoonveld,” het John gesê in ’n onderhoud met die Britse weergawe van die manstydskrif GQ.

“Die klankbaan (van die nuwe rolprent) het nie dieselfde impak op trefferlyste gehad as wat dit 25 jaar gelede het nie, toe dit die topverkoperalbum van die jaar was.”

John sê hy is nie werklik by die nuwe klankbaan betrek nie en beweer hy was nie welkom nie. Hy is ook nie met dieselfde mate van respek behandel nie.

“Dit maak my werklik hartseer. Ek is wel bly dat die musiek se regte gees nog in die The Lion King-musiekspel vasgevang word.”

Musiek was so ’n integrale deel van die oorspronklike (rolprent), en die musiek in die huidige rolprent het net nie dieselfde impak gehad nie.
Elton John

Die 72-jarige sanger – wat tans besig is met sy afskeidstoer, Rocketman – het sy kritiek gelewer terwyl hy sy nuwe outobiografie, Me, bemark het. John vlek glo sy hele lewe in die boek oop – al die hoogtepunte, maar ook die donker tye, onder meer sy wipwa-verhouding met sy ouers, sy seksuele geskiedenis en sy dwelm- en inkopieverslawing.

John se kritiek oor die fliek staan in sterk kontras met hordes fliekgangers wat hulle na rolprentteaters gehaas het om die rolprent te sien. Volgens die webwerf Box Office Mojo het dit reeds byna $1,65 miljard wêreldwyd verdien.

Netwerk24 het ook vroeër berig dat die rolprent plaaslike loketrekords laat spat het. Volgens die Walt Disney Company se Afrika-vleuel het dit teen September ’n yslike R107,6 miljoen in Suid-Afrika verdien en daarmee die rolprent geword wat die meeste geld tot nog toe in die land kon verdien.

Dit het die vorige rekordhouer in Suid-Afrika, Black Panther, van die rekord ontneem en ook die rolprente Avengers: Endgame en Avengers: Infinity War elk ’n plek op die ranglys van topverkopers gekos.

Meer oor:  Musiek  |  Elton John  |  The Lion King  |  Me  |  Flieks  |  Rocketman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.