Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Elvis Blue bou ’n brug met sy musiek
Elvis BlueFoto: Murray Louw

Die brug is onlangs uitgereik en Elvis Blue werk reeds aan sy volgende album.

“Wanneer ’n mens besig is om al hierdie songs te maak, werk dit nie noodwendig almal op dieselfde album nie. Jy dink tog dit sal nice wees op ’n volgende album. So terwyl ek besig was met die vorige Afrikaanse album en die Engelse een was daar Afrikaanse liedjies wat nie sou gewerk het op Êrens in die middel van nêrens nie, maar wat ek gedink het ek nog steeds wil opneem. So as die volgende geleentheid kom, gaan jy daarvoor.”

Voordat hy Idols in 2010 gewen het, het hy reeds vyf albums uitgereik.

Die brug is sy sesde album sedert die Idols-kroon.

Hy gee drie redes vir die titel van die album.

Eerstens wou hy ’n album maak wat Afrikaans klink – met instrumente eie aan die taal.

“Afrikaanse musiek het sy eie instrumente, soos banjo’s en konsertinas en spesifieke ritmes. Daar is ’n spesifieke klank aan Afrikaanse musiek en ek wou nog altyd iets maak met daardie klank, maar ek wou dit graag meng met moderne klanke. Moderne ritmes, goeters wat ons vandag hoor. So dis so half twee verskillende goeters wat ’n mens saamgooi. Dan kom dit bymekaar, soos ’n brug van verskillende klanke wat by mekaar uitkom.”

Tweedens het hy baie oor verhoudings geskryf.

Hy verwys na ruimtes tussen twee mense en wat binne daardie ruimte kan gebeur.

“En hoe mooi is dit nie as twee mense by mekaar kan kom nie. ’n Brug kan bou. En musiek het nogal die vermoë om dit te doen. En die laaste rede vir die titel is dat ek van kleins af gevoel het musiek neem my iewers heen as ek daarna luister. Musiek is ’n brug wat ’n mens na verskillende plekke kan neem wanneer jy luister.”

Hy skryf in Engels en Afrikaans, maar sy albums is altyd óf Afrikaans óf Engels.

“My ma het my geleer om nie my tale te meng nie. Ek sukkel actually daarmee. Hoor jy?”

Hy is Afrikaans en geniet dit daarom om in Afrikaans te skryf.

“Dit voel vir my wanneer ek in Afrikaans skryf, weet ek wie daarna gaan luister. Ek skryf vir myself, maar ek weet ook my ma gaan dit luister. Ek weet hoe sy dink. Ek ken die persoon wat luister ’n bietjie beter. In Engels skryf ’n mens vir ’n wyer gehoor. Jy weet nie wat met ’n Engelse liedjie kan gebeur nie. Vir my is dit regtig lekker om in Engels te skryf, maar ek voel nogal tuis in Afrikaans.”

Elvis Blue, gesetel in George in die Suid-Kaap, het ook ’n produksie, Elvis Blue – Kaal, by die KKNK op 11 en 12 April saam met ander musikante.

“Die titel gaan bloot daaroor dat mense soms na musiek luister en oor die stories daaragter wonder. En om daardie stories te vertel, is so ’n bietjie soos om jouself uit te trek.”

* Kaal is op 11 April om 19:00 en op 12 April om 10:00 in die Absa-burgersentrum in Oudtshoorn. Kaartjies kos R140. Bespreek by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.