Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Emma Renzi: 95 ’n seën waarsonder ek kan klaarkom

Die sopraan Emma Renzi is Donderdag 95 jaar oud, hoewel sy meen dit is ’n sogenaamde seën waarsonder sy kan klaarkom. Tog is sy gelukkig en dankbaar vir wat sy het. Sy het met AJ Opperman gesels.

Emma Renzi vier haar 95ste verjaarsdag. Foto: Melinda Stuurman

Dit verbaas die sopraan Emma Renzi wanneer mense aan haar sê sy is geseënd om 95 jaar oud te word.

“Dis eintlik ’n seën waarsonder ek kan klaarkom, maar wat kan jy doen?”

Sy lag hieroor.

“Maar dit is waarskynlik die laaste onderhoud wat ek sal toestaan.”

Waarom?

“My hartjie, die spieël sê dit vir my . . .”

Tog is sy baie gelukkig. Sy wil aanbly in haar huis in Auckland Park, Johannesburg.

Sy gee nog af en toe sanglesse, maar net vir haar jare lange leerlinge.

Emma Renzi sê dis die laaste onderhoud wat sy toestaan. Foto: Melinda Stuurman

“Hulle kom vir ’n bietjie kontrole. Dit hou my aan die gang. Ek kan maar net dankbaar wees vir wat ek het: goeie vriende en ’n lekker huis. Dis ’n rustige lewe. En musiek. Dis nog altyd daar. Ek is gelukkig.”

Sy het die afgelope jaar moeilik ervaar.

“Ek dink dit was ’n nare tydperk vir ons almal. En vyf mense wat na aan my was . . . weg. ’n Mens voel so leeg. Ek dink dis baie nodig dat jy ander mense sien, met hulle gesels. Stilsit alleen in die huis is nie so ’n goeie idee nie. Maar nou ja, ons het dit almal deurgemaak. Dit is soos dit is.”

Sy was die eerste Suid-Afrikaanse sanger wat in La Scala in Milaan gesing het.

Emma Renzi het sangopleiding in Engeland en Italië ontvang.

Sy het in Engeland en Italië opleiding ontvang.

“Italië was die gelukkigste tyd van my lewe.”

Tog wou Emmarentia Scheepers – Emma Renzi het sy as verhoognaam in Italië begin gebruik – as kind op Heidelberg, Gauteng, ’n dokter word.

“Ek het die wonderlikste ouers op aarde gehad. Hulle het vir my gesê wat jy wil doen, doen jy. My eerste sangjuffrou was Ester Mentz, wat self ’n sangeres was en in Johannesburg gewoon het.

"En sy het vir my gesê: 'My kind, daar is baie mense wat goed is in skeikunde en matesis en geïnteresseerd is in medisyne. Maar daar is nie baie mense wat die gawe het wat jy het nie.' ”

Mentz het ook vir haar gesê toe sy 14 jaar oud was: “Daar is ’n goudmyn in jou keel.”

Dit het Renzi ná matriek ’n jaar geneem om te besluit wat sy wou doen.

“Ek het by die huis gebly en my lisensiaat in sang gedoen. Ek het uiteindelik musiek gekies en ek was nooit spyt daaroor nie.”

Emma Renzi op die verhoog.

Sy het ook klavier gespeel, maar sê sy was beslis nie ’n gebore pianis nie, want sy was nie bereid om elke dag ure lank op die klavier te oefen nie.

“Maar met opera is dít ’n plesier.”

Sy is na die Universiteit van Kaapstad (UK), wat destyds die beste musiekskool gehad het, en daarna na Engeland.

“Dit was kort ná die oorlog. Dit was vir ons logies om Engeland toe te gaan, want jy praat die taal. Maar die hele Europa was nog in rou.”

Sy is wel spyt sy is na Engeland en nie dadelik na Italië nie.

“Ek het verkeerd geleer in Londen. Ek was ongelukkig nie by die regte sangjuffrou nie. Ek sê nie sy was sleg nie, maar sy was goed met ’n ander soort stem. Sy was ’n groot fan van Elisabeth Schwarzkopf. En sy wou hê ek moes só sing. En dis nie my natuurlike stem nie.”

Sy was lank in Engeland voordat sy na Italië is.

“As ek net vroeër by die ou man in Italië uitgekom het by wie ek klas gehad het, sou ek ’n baie langer loopbaan gehad het. En baie vroeër begin het, maar dit het jare geneem om die knopies los te maak.”

Agter die stoel waarop sy in haar sitkamer sit, hang ’n skildery met bladmusiek van die opera Norma deur Vincenzo Bellini.

Dit is geskilder deur ’n vriendin, Rika Lourens, wat al oorlede is.

“Sy het eendag hier aangekom en gevra: 'Wat is jou favourite opera of mees geliefde rol?'

“En ek het gesê Norma. Dit was ’n interessante rol.

"En my naam is op die bladmusiek in die skildery.”

Emma Renzi wou as ’n kind ’n dokter word, maar haar sangjuffrou het aan haar gesê min mense het die gawe wat sy het. Foto: Melinda Stuurman

Voordat sy self in Europa in operas sou sing, het sy as kind die Suid-Afrikaanse operasanger Cecilia Wessels bewonder.

“Ek het net gedink Cecilia Wessels was die wonderlikste ding op aarde. En sy was ook. Wat ’n uitsonderlike stem. Sy was ongelukkig nie musikaal opgelei nie.

“Sy het glo eenkeer ’n fout op die verhoog in Engeland gemaak. Sy het verkeerd ingekom en die dirigent het vir haar gesê: ‘You were a bit late.’ En sy sê toe aan hom: ‘Ag, my dear, what is a bit between friends?’ ”

Wessels het ’n woonstel in Londen gehad.

My kind, daar is baie mense wat goed is in skeikunde en matesis en geïnteresseerd is in medisyne. Maar daar is nie baie mense wat die gawe het wat jy het nie.”

“Sy het ons dikwels genooi om te kom eet, want alles was nog gerantsoeneer in daardie jare (ná die oorlog). Dit was in ’48, ’49.

“Die enigste goed wat jy kon koop wat nie gerantsoeneer was nie, was appels (dit het by die honderde daar gegroei), en aartappels. Ek het baie vet geword.

“En ons liewe Suid-Afrikaanse vriende en ouers het vir ons elke tweede week ’n kospakkie gestuur. Dié moes natuurlik met die boot kom. Goed soos suiker, rys en droëwors.

“Maar Cecilia het gedink ons gaan dood van die honger en het ons dikwels genooi om te kom eet. Sy was regtig ’n karakter. Sy was ’n groot lady. Soos ’n skip in volle vaart.”

Renzi het opgetree tydens die inhuldiging van sowel die destydse Nico Malan-teater (Kunstekaap vandag) in Kaapstad in 1971 en die Staatsteater in Pretoria in 1981.

Sy het in 1979 permanent na Suid-Afrika teruggekeer.

“Dit was ’n sameloop van omstandighede. In daardie stadium kon my loopbaan nie aanhou groei nie, dit was aan die afgaan.

“Mense bereik almal daardie punt – buiten Domingo . . .” Sy lag oor dié opmerking oor die Spaanse operasanger Placido Domingo.

Nog ’n faktor was haar Suid-Afrikaanse paspoort.

“Dis die enigste paspoort wat ek al die jare gehad het. Ek het altyd verlof gehad om in Italië te woon. En ek het werkpermitte gehad oral waar ek gesing het. ’n Suid-Afrikaanse paspoort in die 1970’s was nie ’n goeie ding om te hê nie.”

Emma Renzi Foto: Melinda Stuurman

Sommige teaters het weens die boikot teen Suid-Afrika in die apartheidsjare aan haar gesê hulle is jammer, hulle kan haar nie gebruik nie.

Anton Hartman, voormalige musiekhoof aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), het haar verskeie kere gevra of sy nie lus het om na Suid-Afrika terug te kom en saam met hom ’n operaskool te begin nie.

Sy het hom later gevra of sy aanbod nog staan.

Aan die begin van 1980 het sy by Wits begin.

Sy was sedert 1982 verbonde aan die Pretoriase Technikon (vandag die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie).

“Ek was daar totdat ek afgetree het, maar Wits het my later teruggeroep om sanglesse te gee. Ek dink dit was tot in 1995. Daarna het ek net privaat klas gegee.”

Sy het graag klere gemaak. Sy het gehekel en gebrei, maar kan dit nie meer doen nie.

“Ek kan nie die gare deur ’n naald se oog kry nie, want ek sien nie goed genoeg nie. Ek fokus nie meer nie. En my hande bewe. Ek het probeer, maar dan raak ek vreeslik gefrustreerd. Want ’n mens het nie meer nie, jy sien net nie goed genoeg nie.”

Sy was nog altyd lief vir teater. In Engeland het sy akteurs soos sir Laurence Olivier en sir John Gielgud op die verhoog gesien.

“En op die oomblik is daar so min daarvan. Die Fugard-teater in Kaapstad het ook gesluit. Dis baie sad.

“Ek is jammer vir die jong mense vandag. Maar gelukkig het hulle ander moontlikhede. Ek meen, ek het grootword sonder die internet.”

En dit klink of sy die internet geniet.

“Maar ek haat dit as ek ’n foon optel en ’n opname aan die ander kant sê ek moet hierdie of daardie syfer vir dat of dit druk. Dan wil ek sommer die foon deur die venster gooi.

“Ek kom ook nie reg met my laptop nie en dan moet ek iemand se hulp vra.

“Ek kom reg met die emails. So ’n bietjie.

“So gaan die lewe.”

Meer oor:  Opera  |  95  |  Sopraan  |  Emma Renzi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.