Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Epiese stryd tussen katterige koninginne weer op planke
Die ongenaakbare koning Elizabetta (Violina Anguelov) en Maria Stuarda (Noluvuyiso Mpofu) wat om begenadiging voor haar kniel. Die Donizetti-opera Maria Stuarda word einde September in die Kunstekaap opgevoer.

Die Tudor-koninginne Maria Stuart, oftewel Mary, Queen of Scots, en Elizabeth I se bitter stryd om die troon en om die liefde van Robert Leicester is blote fiksie gefabriseer deur die Duitse skrywer Friedrich Schiller. Die twee koninginne was wel niggies, maar het mekaar nooit ontmoet nie.

Schiller se tragedie is nietemin onweerstaanbare stof vir ’n opera en met die musiek van die Italiaanse operakomponis Gaetano Donizetti daarby word dit ’n verhoogskouspel soos min.

Maria Stuarda word einde September deur die Kaapstad-opera (KO), die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en plaaslike sangers opgevoer. Dit is dieselfde geslaagde minimalistiese produksie wat die regisseur Matthew Wild in 2015 in die Kunstekaap op die planke gebring het.

Die hoofrolle word weer deur die bekende Kaapstadse mezzosopraan Violina Anguelov as Elizabetta en die geliefde Noluvuyiso Mpofu (sopraan) as Maria Stuarda vertolk. Mpofu was die naaswenner in die Internasionale Hans Gabor Belvedere-sangkompetisie in 2016 in Kaapstad en die wenner van die ATKV-Muziqanto in 2015.

In die eerste bedryf twyfel koningin Elizabeth I of sy die Franse koning se huweliksaanbod moet aanvaar. Sy is heimlik verlief op Roberto, die graaf van Leicester, maar hy is te ontsteld oor die lot van koningin Maria Stuarda wat deur Elizabetta gevange gehou word.

Die tweede bedryf gaan oor Roberto se pleidooi aan Elizabetta om Maria te begenadig. Elizabetta is egter ontstoke oor Roberto se versoenende houding en Maria se belediging teenoor haar.

Hoewel die uitbarsting Maria se lot verseël het, huiwer Elizabetta in die derde bedryf om die doodsvonnis te teken, maar ook net totdat Roberto se optrede haar jaloesie weer ontlok. Maria se vriende groet haar voordat sy kalm en adellik haar teregstelling tegemoet gaan.

Die tenore Lunga Hallam en Makudupanyane Senaoana deel die rol van Roberto, Talbot word gesing deur die bas Mandisinde Mbuyazwe en Cecil deur die bariton Thando Zwane.

Twee dirigente kry geleentheid om te dirigeer, die Amerikaanse Kazem Abdullah op 26 September en Marvin Kernelle op 29 September.

*

26 en 29 September om 20:00 in die Kunstekaap. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Opera  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.