Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Erik Holm kan met aangepaste kitaar ná 12 j. weer speel
Erik Holm met sy kitaar.

Die akteur Erik Holm tree Donderdag in Pretoria op met ’n kitaar wat vir hom as kwadrupleeg gebou is.

Dit is ’n instrument deur Mervyn Davis, wat kitaarboukursusse aanbied en tans nog sulke kitare bou.

Holm hoop soortgelyke instrumente sal ander gestremde mense ook in staat sal stel om self musiek te maak.

Davis noem dit Hand-kitare (“harmonically-assisted neck drive”).

Holm sing liedjies en vertel ook sketse tydens sy vertoning in die Pierneefteater.

Die liefdadigheidskonsert word in samewerking met die Bold Moves-rehabilitasiesentrum in Pretoria aangebied waar Holm ook sy rehabilitasie ontvang het nadat hy in 2007 sy nek gebreek het en verlam is.

“Musiek was altyd vir my ’n uitlaatklep,” sê Holm, wat musiek gemaak het as Seeleeu Leipoldt en bekend is om sy rol in die sepie Binnelanders en in toneelstukke soos Dogma, Blou-blou en Plant vir my ’n boom, André.

“Maar ná my ongeluk kon ek ook nie meer ’n instrument bespeel nie omdat my gewrigsfunksie belemmer is en dit was juis in ’n tydperk wat ek musiek maak nodig gehad het. My familie het Mervyn genader om te kyk of ’n aangepaste kitaar vir my gemaak kan word.”

Nou kan Holm vir die eerste keer in 12 jaar weer kitaar speel.

Holm se suster het van Davis se kursusse gehoor en sy en Holm se ander suster het Davis genader.

“Dit was ’n lang proses, maar om musiek nou te kan terughê, is wonderlik, sê Holm.

“Arbeidsterapeute beklemtoon ook die helende gehalte daarvan. Dié instrument is ’n ongelooflike tool met die fyn motoriese bewegings wat ek daarop kan maak. Ek kan nie my vingers beweeg nie en ek kan my gewrig net een kant toe beweeg en my arm kan ek ook beweeg, maar met ’n meganisme kan ek die akkoorde beheer. Ek dink elke rehabilitasiesentrum behoort dit te hê.”

* Dit is egter duur kitare, maar belangstellendes kan e-posse aan Monita le Riche Ferreira by calamitykid@gmail.com of Madelein Greyling by mgreyling@rhprehab.omc stuur vir meer inligting.

* Die konsert in die Pierneefteater begin om 19:00 en sop en wyn word bedien. Kaartjies kos R190.

Skakel 012 329 0709 of stuur ’n e-pos aan info@pierneefteater.co.za om te bespreek.

Meer oor:  Celebs  |  Musiek  |  Teater  |  Erik Holm  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.