SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Musiek
Ernie verloor nie liefde vir sy moedertaal
Ernie Bates

Ernie Bates het oor die afgelope 17 jaar naam gemaak as vervaardiger, verwerker, musikant en sanger. Hy was ’n lid van die a cappella-groep Overtone, wat in 2009 deur Dina Eastwood, die vrou van die beroemde akteur en regisseur Clint Eastwood ontdek is. Ernie en sy ses kollegas in dié sewestuk-groep, het die Eastwoods só beïndruk dat hulle die meeste van die rolprent Invictus se klankbaan opgeneem het. Die klankbaan is vir ’n Oscar benoem.

Ondanks sy internasionale welslae, het Ernie nie sy liefde vir sy moedertaal verloor nie. Hy het onlangs sy jongste album, Droom, bekend gestel.

Vertel ons so bietjie meer oor jouself.

Ek kom uit ’n baie musikale familie en ek is die tweede jongste van sewe kinders. Al sewe van ons sing en speel instrumente. Ek is 33 jaar oud en van die 33 jaar maak ek 19 jaar lank al professioneel musiek. Ek woon in Nigel saam met my verloofde, Tanya Nothnagel.

Jy het al met groot name in die rolprentbedryf te doen gekry . . .

Ek was bevoorreg genoeg om deel te kon wees van die super-sanggroep Overtone. Die groep is in 2006 gestig en was aktief tot einde 2012. Ons het gewerk aan die klankbaan van Clint Eastwood se film Invictus. Die groep het Suid-Afrikaanse geskiedenis gemaak deurdat ons die eerste Afrikaanse sanggroep was wat al die stemverwerkings vir ’n internasionale Warner Brothers-film gedoen het.

Met sy kitaar in sy hande is Ernie Bates op sy heel gelukkigste.

Ek het sewe van die liedjies in die film self vervaardig saam met Overtone in my eie ateljee in Nigel. Die Eastwoods het ons gevra om die bemarking te doen vir die film op verskeie TV programme, soos The Ellen de Generes Show, The Late Late Show With Craig Ferguson en Lopez Tonight met George Lopez, net om ’n paar te noem. Ons het besluit om Kalifornië toe te verhuis einde 2009 waar ons opgetree het saam met David Forster and friends, Kenny Loggins, Donna Summers, Seal, Kevin Bacon, Corinne Bailey Rae en One Republic net om ’n paar te noem. Ons is ook die eerste Suid-Afrikaners wat ’n kontrak kon teken met E Entertainment vir ons aandeel in die realiteitsprogram Mrs Eastwood and Company.

Ons het Amerika plat getoer en ons het ervaar hoe dit voel om gesien te word as supersterre. Ek het baie geleer in Amerika. Net om deel te wees van die ervaring was ’n eer vir my en dit is iets wat by my sal bly tot die einde toe.

Vertel ons so bietjie van jou jongste CD, Droom.

Ek het weer eens die hele produksie self gedoen. Ek het al die instrumente bespeel op die CD. Ek het die keer twee cover songs op die CD gesit net om te wys dat ek ook ander se musiek kan verwerk en my eie kan maak. Ek het die meeste van die liedjies geskryf maar het ook twee opgeneem wat geskryf is deur Michael de Lange.

Die CD het ’n vars nuwe klank met liedjies op wat in ’n groot verskeidenheid se smaak sal val.

Is jy heeltyds musikant?

Ja, en ek is ook musiekvervaardiger by my eie ateljee. Ek het onlangs my eie platemaatskappy, Deurbraak Musiek, begin.

Waaroor is jy passievol?

Ek is baie passievol oor musiek en filmwerk. Ek vervaardig ook self musiekvideo’s vir kunstenaars en sal binnekort begin werk aan my eie film.

Wat maak jou kwaad?

Ek is baie reguit, maar ek word nie maklik kwaad nie. Ek kan nie onregverdigheid verdra nie. Ek word ook woedend as ek sien hoe mense op ander trap en hulle afkraak.

Wat is jou gunsteling-uithangplek in jou omgewing?

Ek gaan glad nie na uithangplekke toe nie. Ek sien baie kuierplekke met my vertonings naweek ná naweek. So, as ek vrye tyd het, verkies ek om eerder tyd saam met my verloofde by die huis deur te bring.

Die beste fliek wat jy die afgelope jaar gesien het?

John Wick 2

Die lekkerste liedjie wat jy die laaste tyd gehoor het?

Luke Combs – “When it rains it poars.”

Wat beplan jy vir hierdie Kerstyd?

Ek kan nie glo hoe vinnig die jaar gevlieg het nie. Ek het my pa die 10de Januarie verloor en my mammie die 6de Oktober. In ’n oogwink het die jaar gekom en my lewe vir ewig verander. Ons kinders kom altyd Kersdag as ’n familie bymekaar saam met ons ouers en die jaar sal presies dieselfde wees. Al verskil is net Ma en Pa is saam met ons in gees.

Hoekom voel jy positief oor ons land en sy mense?

Ons het die mooiste land in die wêreld. Ons beleef die natuur elke dag en besef nie hoe bevoorreg ons is om dit te ervaar nie. Ek is altyd positief oor die lewe en situasies. Geen goed kan uit negatiwiteit kom nie. Ons kan net ’n positiewe verandering maak deur om vorentoe te beweeg en om altyd die beste te maak van waar ons ook al is.

Meer oor:  Musikant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.