Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Esté Gross: ‘Jou drome verg geloof én aksie’

Esté Gross, bekende omroeper op RSG en gereelde rubriekskrywer vir Beeld, stel vandag haar nuwe enkelsnit bekend.

Sy hoop om met dié enkelsnit, “Hemelruim”, haar sangloopbaan die regte rigting in te stuur.

Gross sê “Hemelruim”, haar tweede enkelsnit, was vir haar ’n persoonlike reis en is ’n hoogtepunt in haar lewe.

“Die liedjie is al jare gelede in my notaboek met potlood geskribbel en wag al lank om ‘gebore’ te word,” sê Gross.

Esté Gross, radio-omroeper en rubriekskrywer, wat vandag ’n nuwe enkelsnit, “Hemelruim”, bekend stel wat op digitale platforms beskik­baar sal wees.Foto: Fathom Media

Gross was 14 jaar oud toe sy met sanglesse begin het en op universiteit het sy verdere formele musiek- en klassieke sangopleiding ontvang.

Sy sê sy het haar sangloopbaan lank op die agtergrond geplaas, maar die tyd om haar sangdrome te verwesenlik het aangebreek.

“Ek het geleer dat jy ’n goeie span nodig het om van ’n liedjie ’n sukses te maak en toe die geleentheid hom voordoen om met professionele en kreatiewe mense, soos die vervaardigers Gideon Botes en Wesley West, en sanger Len Muller, te werk, het alles begin om mooi in plek te val.”

Gross het Muller, wat as gaskunstenaar op “Hemelruim” optree, ontmoet toe sy met hom gesels het vir haar musiekreeks op RSG, Hier en anderkant die Blouberge.

“Ek hou baie van die verwerking van ‘Sarie Marais’ wat hy saam met Stef Bos opgeneem het. Ek het hom gevra of hy sou belangstel om ‘Hemelruim’ saam met my op te neem. Hy vind toe aanklank daarby en hier is ons nou,” sê sy.

“Dit is baie inspirerend om saam met Len te werk. Hy is ’n uiters talentvolle sanger en liedjieskrywer, met integriteit. Hy is professioneel en pret om mee saam te werk.”

Ook Muller het die ervaring terdeë geniet.

“Esté het my genader met die pragtige lied en ek het baie daarvan gehou.

“Ek het baie hulp gekry toe ek begin het en daarom probeer ek elke geleentheid aangryp om ook ander kunstenaars te help wat begin,” sê Muller.

Gross sê “Hemelruim” val in die gospel-pop-genre en is deur die Bybel geïnspireer.

Esté Gross
Die omslag van Gross se nuwe enkelsnit, “Hemelruim”, wat sy saam met Len Muller opgeneem het. Foto: STARBURST PROMOTIONS

“Eksodus 16, waar die Here aan die Israeliete elke oggend manna (hemelbrood) gee, maar hulle moes steeds self uitgaan om dit wat aan hulle voorsien is, te gaan optel. Dit verg geloof én aksie.

“Die grootste hartseer vir my is as vrees, verskonings en teleurstellings mense daarvan weerhou om hul lewe ten volle uit te leef.

“Ek wil myself en elkeen wat daarna luister, herinner om vorentoe te kyk en nie in die strik te trap nie.”

Gross sê opgewonde “Hemelruim” is van vandag af op digitale platforms, soos YouTube Music, Deezer, Spotify, Apple Music en Tencent beskikbaar.

Sy glo nie daar is te veel hooi op haar vurk nie en sê sy is opgewonde oor wat die toekoms in alle aspekte van haar lewe en loopbaan inhou.

“Daar is nog heelwat liedjies in my notaboek wat wag om afgestof te word en ’n klomp idees vir rubrieke wat draai in my kop. Ek sal nog graag ook ’n kinderboek wil skryf. Die diepste waarhede kan dikwels juis so in eenvoud weergegee word.

“Wat radio betref, kan luisteraars steeds Dinsdae tussen 18:00 en middernag saam met my kuier en Sondae tussen 06:00 en 07:00 by my aansluit vir die klassieke program Oggendstemming.

“Ek hou daarvan om luisteraars te verras met nuwe uitreikings of iets ongewoons wat hulle nog nie gehoor het nie. Ek werk ook nou aan ’n dokumentêr vir RSG oor uile en hul geheime, maar meer daaroor kan ek nog nie verklap nie . . .”

Meer oor:  Esté Gross  |  Sangeres  |  Radio-Aanbieder  |  Rubriekskrywer  |  Enkelsnit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.