Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Esterhuyse bekoor op Loch Logan se dak
Anton Esterhuyse, Bloemfonteinse pianis, Vrydagaand op die Loch Logan-waterfront se dak. Foto: Mlungisi Louw

Die atmosfeer Vrydagaand op die Loch Logan-waterfront se dak was iets wat Bloemfonteiners lank sal bybly. Die pianis Anton Esterhuyse het sy eerste solo-uitvoering in tien jaar hier aangebied.

Tot groot vermaak van die gehoor, wat onder komberse gesit het vanweë die eerste winterkoue, het hy met ’n fiets met ’n afstandbeheer-sluitstelsel en ’n alarm wat kort-kort afgaan tot by die vleuelklavier gery.

Die kim van die stad en ’n duisend liggies het die agtergrond ingekleur.

“Ek moes dit op ’n komiese noot begin. Die kunstenaars kry mos maar swaar, jy weet,” het hy Sondagoggend geskerts.

Mense kan net vir só lank kyk na ’n ou wat klavier speel, so ek moes hulle besig hou!
In ’n eerste vir Bloemfontein het Anton Esterhuyse ’n vleuelklavier op die waterfront se dak laat aflewer. Foto: Mlungisi Louw

Hy is dankbaar vir die goeie opkoms terwyl daar die naweek verskeie buitelugvertonings in die Rosestad gehou is. Die Vrystaatse Simfonieorkes het Saterdag twee, wat uitverkoop was, by die Botaniese Tuin gelewer.

Hy kon die vleuelklavier met die samewerking van dr. Joanita Erasmus-Alt, sy duetmaat en ’n musiekonderwyser by die Hoërskool Fichardtpark, by die skool leen.

Esterhuyse het gesorg vir iets vir almal, met onder meer die temalied van Imagine Dragons se “Follow You” waarmee hy interaktiewe perkussie met die gehoorlede gedoen het. “Ode aan my land”, sy eie komposisie, het ook oor die stad weerklink. Later moes die gehoor raai watter TV-program uit die 1980’s se musiek hy speel.

“Mense kan net vir só lank kyk na ’n ou wat klavier speel, so ek moes hulle besig hou!”

As musiekleier van die Geloofsentrum Universitas was dit met die inperking vir hom ’n aanpassing om die weeklikse lofprysing aanlyn uit te saai, maar hy het in daardie tyd baie meer materiaal vir sy twee YouTube-kanale geproduseer.

Die Sand du Plessis-teater was in ’n stadium vir hom soos ’n tweede huis met sy gereelde skool- en teaterproduksies.

“Ek mis dit nogal, daardie dae.”

Anton Esterhuyse voor die klavier met die konsert. Foto: Mlungisi Louw
Nie eens die eerste winterkoue kon musiekliefhebbers weghou nie. Foto: Mlungisi Louw
Anton Esterhuyse het Vrydagaand vir die eerste keer in tien jaar ’n solo-uitvoering gegee. Foto: Mlungisi Louw
Die geboue het die agtergrond van Anton Esterhuyse se uitvoering ingekleur. Foto: Mlungisi Louw
Die geboue het die agtergrond van Esterhuyse se uitvoering ingekleur. Foto: Mlungisi Louw
Anton Esterhuyse het die gehoor vermaak. Foto: Mlungisi Louw
Dit was die eerste keer dat daar ’n buiteluguitvoering met ’n vleuelklavier op die Loch Logan-waterfront se dak gelewer is. Foto: Mlungisi Louw
Die gehoor was in vervoering oor Anton Esterhuyse se uitvoering. Foto: Mlungisi Louw
Anton Esterhuyse Foto: Mlungisi Louw

Hy en Jaco Jacobs het saam ’n musiekproduksie geskryf ter viering van die Laerskool Willem Postma se 50ste bestaansjaar verlede jaar, maar dit moet nog opgevoer word.

As hy nie komponeer of konsert hou nie, lees hy graag en bring tyd deur saam met sy gesin.

Wat die res van die jaar betref, sal hy graag weer konserte in ’n spesiale opset wil hou. Daar is sprake van een in die natuur, maar hy wil nie veel meer verklap nie.

Hy sê dit is tyd dat kunstenaars en ondernemings saamstaan.

Meryl Henning, bemarkingskonsultant van die Loch Logan-waterfront, het ná die konsert gesê sy is verstom oor hoe goed dit was, en dat hulle beslis weer in die toekoms so iets sal hou.

Die geleentheid is aangebied deur Phoenix Productions en die Loch Logan-waterfront, met ’n borgskap deur die Kunstetrust.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.