Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Facebook laat nou konserte teen betaling toe

Suid-Afrikaanse kunstenaars wat die afgelope jaar gesukkel het om munt te slaan uit gratis en regstreekse uitsendings van konserte op Facebook, kan nou met ’n nuwe funksie die geld makliker laat inrol.

So hou Monique Cassells en James Marais gratis konserte op Facebook. Hulle sal met Facebook se nuwe POE-funksie binnekort toegangsgeld kan vra. Foto: Verskaf

Die sosialemediareus het Paid Online Events (POE) in Suid-Afrika beskikbaar gestel – ’n funksie wat enigiemand toelaat om eers toegangsgeld te vra voordat ’n aanlyn konsert, praatjie of aanbieding aan gehoorlede gestroom word.

Enigiemand wat daardeur ’n inkomste verdien, sal tot 30 Junie vanjaar nie ’n sent daarvan aan Facebook hoef te betaal nie. Dit is nog nie bekend watter deel van die inkomste Facebook ná 30 Junie sal eis nie.

Facebook-gebruikers met ’n amptelike Facebook-blad kan steeds ’n geleentheid, konsert of praatjie gratis en regstreeks aan al hul Facebook-aanhangers uitsaai. Die POE-funksie gee gebruikers egter die bykomende opsie om toegangsgeld te vra voordat ’n konsertganger toegang tot die aanbieding kry.

Luidens Facebook se webblad sal gebruikers wat aanbiedinge wil hou, self die toegangsgeld kan bepaal. Sodra enigiemand dié bedrag betaal, sal hulle die aanbieding op hul selfoon, tablet of rekenaar kan kyk.

Volgens die sangeres Monique Cassells lyk Facebook se POE-funksie op die oog af belowend. Sy sê sy moet dit egter nog ordentlik ondersoek om ’n mening daaroor uit te spreek.

Cassells en haar wederhelf, die sanger James Marais, het hulle die afgelope jaar pal tot Facebook gewend en gratis konserte daar aangebied. Hulle het hul bankbesonderhede tydens dié gratis konserte vertoon met die hoop dat konsertgangers hul beursie vir hulle sal oopmaak. Die meeste het egter nie.

“Dit is waar dat baie mense ons aanlyn vertonings kyk sonder om enigiets by te dra, maar ons verstaan dat baie mense op die oomblik sukkel. Ons bereik ook mense met ons aanlyn vertonings op Facebook wat ons gewoonlik nie sou bereik nie, soos mense oorsee of ouer mense wat weens die Covid-19-pandemie nie op die oomblik wil uitgaan nie. Van die mense wat gereeld inskakel, is wel vrygewig, en ons is dankbaar daarvoor,” sê sy.

“Venues begin ook nou stadig weer om ons te bespreek, en baie mense verkies om kunstenaars liewer in lewende lywe te sien, in plaas van aanlyn, so ons sal versigtig moet wees hoe ons dinge (vorentoe) benader.”

Dit is waar dat baie mense ons aanlyn vertonings kyk sonder om enigiets by te dra, maar ons verstaan dat baie mense op die oomblik sukkel. Ons bereik ook mense met ons aanlyn vertonings op Facebook wat ons gewoonlik nie sou bereik nie, soos mense oorsee of ouer mense wat weens die Covid-19-pandemie nie op die oomblik wil uitgaan nie. Van die mense wat gereeld inskakel, is wel vrygewig, en ons is dankbaar daarvoor.
Monique Cassells

Die amptelike Facebook-blad van die Facebook-gebruikers wat die POE-funksie wil gebruik, moet voldoen aan Facebook se monetisasiebeleid, Apple App Store-riglyne en Google Play se monetisasiebeleid. Indien dit nié hieraan voldoen nie, kan ’n gebruiker by Facebook aansoek doen om die POE-funksie op hul blad te aktiveer.

Musikante sal daarna ook POE se bepalings en voorwaardes moet gehoorsaam, wat onder meer insluit dat hulle slegs musiek mag uitvoer as hulle al die regte tot die musiek besit.

Meer besonderhede, insluitende stap-vir-stap-aanwysings oor hoe ’n mens ’n aanbieding op Facebook met die POE-funksie skep, is op hierdie webblad (klik hier) beskikbaar.

Meer oor:  Google Play  |  Apple App Store  |  Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.