Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
FAK gee prys vir ‘Sarie Marais’-skepper aan kleinkind

Hoewel Sarie Maré, vir wie die bekende volksliedjie “Sarie Marais” geskryf is, nooit wou hê dit moet uitgereik word nie, is dit vandag nog gewild en het die FAK en die Volkspele-beweging se noordelike streek Vrydag ’n eerbewys aan haar kleinkind oorhandig.

Japie Toerien (89), wat die eerbewys op ’n funksie by die Voortrekkermonument in Pretoria gekry het, se oupa J.P. Toerien, wat onder die naam Jepete geskryf het, het die liedjie oorspronklik as ’n gedig geskryf voordat hy en Maré getrou het.

Sarie Marais
Japie Toerien sit in die FAK se Afrikaanse Liedjietuin met die granietbord met die woorde van die bekende volksliedjie “Sarie Marais”. Foto: Johann van Staden
Johann van Staden

“Maar sy was baie skaam en privaat daaroor,” sê Toerien oor sy ouma.

“Sy wou nie hê dit moet gewild word nie. Maar dit het. En dis vandag lekker om na my ouma en oupa se geskiedenis te kyk en te sien wat hulle gedoen het.”

Toerien se oupa is dood voordat hy gebore is, maar hy het sy ouma geken. Hy was agt jaar oud toe sy in Desember 1939 dood is.

“Ek onthou die tyd saam met haar in Bloemfontein. Ek kan nie enige gesprekke met haar onthou nie, maar ek onthou ons het op die trem na die mark gegaan. Ek was bevoorreg om haar te kon ervaar.”

Toerien, wat in Centurion woon, besit ook ’n artikel oor sy grootouers wat op 28 Oktober 1949 in die destydse tydskrif Die Brandwag verskyn het.

Hy het van jongs af geweet sy ouma is dié Sarie in die liedjie.

Sarie Maré en J.P. Toerien in ’n artikel wat in 1949 in ‘Die Brandwag’ verskyn het.
J.P. Toerien en Sarie Maré in ’n eksemplaar van die ‘Die Brandwag’, wat hul kleinseun Japie Toerien besit.

Barry Müller, kultuurorganiseerder: FAK-kultuurnetwerke, sê: “Dit is vir die FAK belangrik om geskiedkundige figure en hul nasate te vereer. Die toekenningsfunksie is in samewerking met die FAK en die Volkspele-beweging se noordelike streek aangebied eerstens om Toerien te vereer en ook om dié streek amptelik vir die jaar te open."

Die liedjie se wysie was dié van Septimus Winner se “Sweet Ellie Rhee”, wat in 1865 gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog geskryf is.

Volgens oorlewering het Amerikaners dit gesing toe hulle op die destydse Transvaalse goudmyne gewerk het en Toerien het dit gehoor.

Toe die liedjie uitgereik is, is Maré se van verkeerdelik as Marais aangedui, maar dit het onveranderd gebly.

Die eerste vers:

My Sarie Marais is so ver van my hart,

maar 'k hoop om haar weer te sien.

Sy het in die wyk van die Mooirivier gewoon,

nog voor die oorlog het begin.

Die sanger Philip Moolman het dit Vrydagaand die eerste keer voor ’n gehoor gesing terwyl die Volkspele-kinders daarop gedans het.

“Ek dink mense het dit destyds vol heimwee gesing. Dit is ’n voorreg om daardie dinge te kan opdiep en te kan sing. Die waarde van onthou. Hierdie woorde het oor ons oupas en oumas, en die geslagte voor hulle, se lippe gekom. Dit kom ’n lang pad,” sê Moolman.

“Dit spreek van ’n ware geskiedenis en liefdeslewe. Oorlog. Onsekerheid. Vlug van die vyand. Wegkruip. Weggestuur. En die hoop om terug te keer.

“Dis soos ’n storie met ’n begin, middel en einde. Die ontberinge en verlange. En dan terug in die arms van ’n geliefde. Dis eintlik ’n baie emosionele, nostalgiese liedjie. Dit is waardevol om te onthou.

“Musiek is mos maar ’n wonderlike affêre. Dit bind ons saam,” sê Moolman.

Die naam “Sarie Marais” verskyn ook op die sertifikaat wat Toerien saam met die prys gekry het.

“Hierdie gebeurtenis het my eintlik onkant gevang. Ek het nooit gedink so iets sal my te beurt val nie.”

Toerien (Jepete) is in 1930 dood en Maré in 1939.

Die liedjie is oor die jare deur verskeie kunstenaars opgeneem.

Dit sluit in die Amerikaanse sanger en liedjieskrywer Jim Reeves, wat dit gesing het in die fliek Kimberley Jim, wat in 1963 uitgereik is.

Ander kunstenaars sluit in Stef Bos en Helmut Lotti, Lochner de Kock het dit op sy album Haal asem en leer dans ingesluit en Rocco de Villiers het dit op klavier opgeneem.

Meer oor:  Fak  |  Voortrekkermonument  |  Pretoria  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.