Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Fees van kamermusiek bring voorste musici na Eikestad
Marc Bouchkov, wat pas die silwermedalje in die Tsjaikofski-kompetisie gewen het, is een van die deelnemers aan die Stellenbosse Internasionale Kamermusiekfees.

Onder die musici van oor die wêreld heen wat vandeesweek vir die Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) op Stellenbosch toesak, is die silwermedalje-wenner van die Tsjaikofski-kompetisie, die Belgiese violis Marc Bouchkov.

Geen kompetisie het vir violiste groter prestige as dié kompetisie in Moskou nie en na wat verneem word, was die mededinging vanjaar buitengewoon straf. Bouchkov het op 27 Junie daar sy laaste note gespeel en sal op die SIKMF eers weer op die verhoog verskyn.

Dié appel het sowaar nie ver van die boom geval nie.

Sy pa, Evgeny Bushkov, was in 1990 ’n pryswenner in die Tsjaikofski-kompetisie en hy het boonop self ook voorheen aan die SIKMF deelgeneem. Bouchkov se tante, die violis Julia Bushkova, was eweneens ’n deelnemer aan die SIKMF.

Bouchkov, gebore in 1991, het reeds ’n gevierde reputasie. Hy het as 22-jarige die eerste prys in die Montreal Internasionale Musiekkompetisie in 2013 gewen en in 2016 sy debuut in die Wigmore Hall in Londen gemaak. Die ander konsertsale waar dié violis ook sy buiging gemaak het, sluit in Carnegie Hall, die Concertgebouw in Amsterdam, die Elbphilharmonie in Hamburg, die Konzerthaus in Berlyn en die Tsjaikofski-saal in Moskou.

Dit, terwyl hy van 2014 tot 2017 nog ’n student aan die Kronberg-akademie in Duitsland was, weliswaar as jong solis in ’n nagraadse kursus.

Gramophone het hom (Marc Bouchkov) as ’n 'violis om dop te hou' bekend gestel saam met ’n gloeiende resensie van sy album.

Hy het hom ook reeds as komponis bewys. In 2018 is sy eerste album met sy eie werke en dié van die Belgiese komponis Eugène Ysaÿe en die Franse komponis Amédée-Ernest Chausson uitgereik. Gramophone het hom as “ ’n violis om dop te hou” bekend gestel saam met ’n gloeiende resensie van sy album. Dit is deur hoogtepunte gevolg soos optredes met die Münchner Symphoniker en die Hamburger Symphoniker saam met wie hy Tsjaikofski se eerste vioolconcerto gespeel het.

Die buitelandse musici in die fees is almal voorste eksponente van hul instrument en kom uit die VSA, Oekraïne, Rusland, Kanada, Brittanje, verskeie Europese lande en Suid-Afrika.

Die SIKMF is in 2004 deur die klavier-egpaar Nina Schumann en Luis Magalhães gestig en word vanjaar vir die 16de keer aangebied.

Dié hoëprofielfees vind van 5 tot 14 Julie in die konservatorium in Stellenbosch plaas en die aandkonserte in die Endler.

Vir meer inligting oor die konserte en kunstenaars, besoek by sicmf.co.za. Besprekings kan by Computicket gedoen word.

Meer oor:  Klassieke Musiek  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.