Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Fokofpolisiekar stuur 2020 ‘in sy maai’ met konsert

Die manne van Fokofpolisiekar gaan vir die eerste keer in 15 jaar weer ’n akoestiese konsert aanbied – een waarmee hulle sê hulle ’n wipwarit van ’n jaar “in sy maai” wil stuur.

Dié vaarwel sal egter nie met die klank-ontploffing gepaard gaan waarvoor die groep so bekend is nie. Musiekliefhebbers gaan ’n ietwat rustiger kant van Francois van Coke (sang), Hunter Kennedy (kitaar, sang), Johnny de Ridder (kitaar), Wynand Myburgh (baskitaar) en Jaco Snakehead Venter (tromme) in The Sound of Fokof Unplugged sien.

Dié konsert, wat regstreeks aanlyn gestroom gaan word, gaan klavier- en akoestiese verwerkings van hul bekendste liedjies insluit.

Hoewel Kennedy sê hy weet “werklikwaar” nie hoekom hulle so lanklaas ’n akoestiese konsert aangebied het nie, het Myburgh die antwoord.

“Ons speel nooit unplugged nie, want dit is ’n tricky ene,” sê hy.

“Ons is ’n punk band. Om unplugged te gaan, is harde werk en ons almal se tyd is limited. Die restrictions op shows gee ons wel nou die tyd om weer so iets aan te pak. As daar nie ’n pandemie was nie, sou ons nie die tyd gehad het nie.”

Benewens nuwe verwerkings van ou gunstelinge gaan die konsert liedjies op Kajuitkoors, die groep se jongste kortalbum, insluit, wat in Oktober uitgereik is.

Kennedy sê hulle wou nie met die vier liedjies op die album “raaisels” opdiep nie – die “lekker kreatiewe tyd” tydens die inperking het klinkklaar boodskappe in hul nuwe musiekaanbod opgelewer.

“Ek kan net die titels noem en dit behoort ’n mens ’n taamlike idee te gee van die boodskap van die kortspeler: ‘Shut the Fuck Up’, ‘Raak siek raak gesond’, ‘Ons is die virus’ en ‘Teen die wet’.

“Dis eksistensiële vrees gemeng met paniek en samesweringsteorieë. Ek het tydens die inperking ’n haat vir outoriteit aangekweek – dit het gevoel asof ons vrylopende mense op ’n belastingplaas is. Dit het my herinner aan hoërskool, dus is ek bly dat die kortalbum ook so ’n 90’s-punk-college-rock-klank het. Daar is ook die required klavierballade.

“Ek dink Kajuitkoors klink soos ’n mengsel tussen NOFX en Coenie de Villiers.”

Die omslag van Fokofpolisiekar se nuwe kortalbum, ‘Kajuitkoors’.

Kennedy en Myburgh sê die konsert is nie net een van hul laaste konserte vir die jaar nie, maar hopelik ook die laaste keer dat hulle ’n konsert aanlyn aanbied.

“Ons sal moet kyk wat vorentoe gebeur, maar as die restrictions rondom byeenkomste gelig word, gaan niemand meer belang stel in aanlyn konserte nie,” sê Myburgh.

“Ons het goeie tye met die aanlyn konserte gehad, maar dit vat baie werk en dit is duur om te produce. As jy nie ’n goeie kyksyfer kry nie, is dit nie die moeite werd nie.”

Aanlyn konserte is net iets heeltemal anders as waaraan hulle gewoond is, las Kennedy by.

“Dit is maar soos band practice met kameras – een lang musiekvideo. Dit is interessant vir my dat mense van regoor die wêreld dit saam kan check. Dit is ’n vernuwende produk, maar niks kan die gevoel van duisende mense wat elke woord saamsing, klop nie. Ek mis die energie van ’n live crowd. Dit is ’n verskriklike bindende ervaring.

Livestreams is anders. The Sound of Fokof Unplugged is wel so ’n bietjie anders as die voriges: Ons kap hom so 16:00 Sondagmiddag, so ons hoop mense steek ’n vuurtjie aan, drink ’n wyntjie, gooi die vertoning op die televisie, en speel die klanke kliphard deur die hoëtroustelsel! Vloek op die bure en f*kk*n leef ’n bietjie.”

  • The Sound of Fokof Unplugged begin op 29 November om 16:00. ’n Kaartjie kos R165 en kan by iTickets bespreek word. Die konsert duur 90 minute en kan nog 48 uur daarna aanlyn gestroom word. Besoek https://www.fokofpolisiekar.co.za/ vir meer inligting.
  • Fokofpolisiekar se kortalbum Kajuitkoors is reeds uitgereik en op platforms soos Apple Music, Deezer, iTunes, Spotify en YouTube Music beskikbaar.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.