Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Folksanger Colin Shamley oorlede

Die folksanger en liedjieskrywer Colin Shamley, bekend om treffers soos “Colonial Man” en “Moonligting”, is Donderdag dood.

Shamley sou Maandag 17 Mei 75 geword het.

Volgens Des Lindberg, sanger en jare lange vriend, het Shamley aan akute emfiseem gely.

Colin Shamley Foto: Hidden Years Music Archive

Hy het in Rustler’s Valley naby Clarens in die Vrystaat gewoon.

“Hy was ’n ongelooflik kreatiewe folksanger. Hy het ook by The Troubadour (wat ’n gewilde venue vir folkmusiek in Johannesburg was) opgetree.

"Dawn (die sangeres en Des se oorlede vrou) het hom in Lennon, een van ons produksies, laat optree. Dit het bestaan uit die musiek van die Beatles. Dit was op die verhoog kort nadat John Lennon geskiet is. Daar het ons besef watter volronde kunstenaar hy is.”

Shamley het net een album, Born Guilty, uitgereik.

“Ek en Dawn het een van sy liedjies, ‘Ragamuffin Girl’, opgeneem, maar ons het dit nooit uitgereik nie.”

Colin Shamley is bekend om treffers soos 'Colonial Man' en 'Moonlighting'. Foto: Hidden Years Music Archive

David Marks, liedjieskrywer en direkteur van 3rd Ear Music en skrywer van die gewilde liedjie “Master Jack”, het hom langer as 50 jaar geken.

“Hy het in Malawi grootgeword en toe ek hom in 1968 ontmoet het, het ek hom gevra waarom hy na Johannesburg gekom het. Hy het geantwoord: ‘Om die man te ontmoet wat ‘Master Jack’ geskryf het.'

“Daar is soveel groot liedjieskrywers die afgelope jaar dood. Mense soos John Oakley-Smith en my vrou, Frances (ook ’n liedjieskrywer). En dit lyk asof daar meer belangstelling in hulle is noudat hulle dood is.”

Marks het Shamley sowat ’n jaar gelede besoek.

“Ons het eintlik planne gehad om hom weer aan die speel te kry. Hy was die eerste musikant wat opgetree het in elke klub wat ek geopen het.”

Die liedjieboer, Anton Goosen, het ook baie van Shamley se konserte bygewoon.

“Dit was in die laat 1960’s en vroeë 1970’s. Hy was deel van die folk-crowd in Joburg. Hulle het in klubs gespeel in Hillbrow en Braamfontein. Hy was baie goed. Dit was dieselfde tyd as Cornelia, David Marks, Paul Clingman, John Oakley-Smith. Hy was ’n baie goeie liedjieskrywer, maar ons was nooit bure nie.”

Hoewel Shamley in Suid-Afrika gebore is, het sy gesin hulle in 1949 in Malawi gaan vestig toe hy drie jaar oud was.

Hy was later lid van sy broer se orkes wat Amerikaanse liedjies gespeel het.

Dr. Lizabé Lambrechts, projekleier: Hidden Years-musiekargief by die Africa Open-instituut vir musiek aan die Universiteit Stellenbosch, sê Shamley het op die musiek van Engelse folkmusikante gefokus toe hy in Suid-Afrika aangekom het.

Hy het in die Troubadour ’n groot klomp aanhangers opgebou.

Colin Shamley sou Maandag 17 Mei 75 word. Foto: Hidden Years Music Archive

Volgens Pakama Ncume, klankargivaris van die Africa Open Instituut, wat die musiek in die Hidden Years-versameling digitaliseer, is die grootsheid van sy stem maar een ding wat uitstaan.

“Sy musiek roer iets in my wat woorde nie kan beskryf nie. Hy was een van die musikante wat aktief betrokke was in die skep van alternatiewe musiek in die 1970’s. Sy verwerking van liedjies soos ‘Give Me Besides My Daily Bread’ en ‘Denver Idleman’ (geskryf deur David Marks) wys watter goeie sanger hy was, hoe sielvol en strelend sy stem was en die magie wat dit aan die luisteraar gebring het.”

David Marks
'Born Guilty', die enigste album wat Colin Shamley uitgereik het.

Born Guilty is in 1980 deur 3rd Ear Music uitgereik. Dit het groot lof gekry, maar nie goed verkoop nie. Sy musiek word egter bewaar deurdat baie van sy konserte opgeneem is en in die Hidden Years-musiekargief beskikbaar is.

Hy was onder andere met die aktrise Aletta Bezuidenhout getroud.

Hy word oorleef deur drie kinders. Nog ’n seun is as kind oorlede.

Colin Shamley het net een album, ‘Born Guilty’, uitgereik. Foto: Hidden Years Music Archive
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.