Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
FSSO se jaareindkonsert bied uitstaande musiek

Die Vrystaat Simfonieorkes (FSSO) se laaste konsert van die jaar het musiek gebied wat die luisteraar lank saam met hom sal kan dra.

Albei die werke op die program is onbekend en die kombinasie van instrumente in die openingswerk was seldsaam, maar wat ’n heerlike verrassing was dit nie.

Kimmy Skota

Suite vir orreltrio en strykers, op. 149 deur die Duitse komponis Joseph Rheinberger is gekomponeer vir die rare kombinasie van orrel, tjello en viool as “solis” saam met ’n klein kamerorkes.

Rheinberger, wat van 1839 tot 1901 geleef het, is bekend vir die aangename luistermusiek wat hy vir die gemiddelde luisteraar geskep het. Hoewel dit nie harmonies ryk is en veel diepte het nie, val die talle mooi melodieë strelend op die oor. Dit is soetklinkende musiek.

In dié bepaalde werk het die trio, Jan Beukes (orrel), Samson Diamond (viool) en Anmari van der Westhuizen (tjello), met uitdrukkingsvolle spel en goeie klankbalans beïndruk.

Rheinberger was naas komponis ’n orrelis en het dus geweet hoe om vir die orrel te skryf sodat dit nie die ander instrumente oorheers nie, maar ook eer aan Beukes wat seker gemaak het die twee strykers is duidelik hoorbaar wanneer hulle die melodielyn dra.

In Camille Saint-Saëns se Oratorio de Noël, op. 12 (Kers-oratorium) was dit die donker basnote van die orrel wat tot die gravitas van die werk bygedra het.

Dié werk bestaan uit 10 dele en is vir vyf soliste, gemengde koor, strykers, orrel en harp (uitgevoer op klavier).

Die koor, 16 sangstudente van die Odeion Skool vir Musiek (OSM), was in die hoogste rat en het ’n volume geproduseer wat ’n koor van 50 hulle nie sommer sal kan nadoen nie. Maar hulle het ook gewys dat hulle sag kan sing. In deel ses en nege het hulle ongelooflike crescendo’s en decrescendo’s gelewer.

Die soliste was eweneens puik. Kimmy Skota (sopraan), Mariëtte Pitout en Teresa de Wit (alte), Albertus Engelbrecht (tenoor) en Thesela Kemane (bas) was indrukwekkend. Skota, wat nie aan die OSM verbonde is soos vroeër berig nie, het ’n kragtige stem en goeie tegniek wat spruit uit haar musiekstudie van 2001 tot 2008 aan die Universiteit van Kaapstad, asook internasionale optredes.

Sy het verskeie jare in André Rieu se produksies gesing. In 2013 het sy haar by ’n kerkgroep in Nigerië aangesluit en eers onlangs weer begin sing. Met soveel begaafdheid behoort sy niks anders te doen nie.

Al die soliste verdien ’n veer in die hoed vir hul bydrae tot die musikale geheel.

Een van die treffendste oomblikke in die werk was die wegsterf aan die einde van deel vier, wat deeglik beheer is deur die dirigent, Alexander Fokkens. Hy het van begin tot einde die taak gehad om die orrel voor die verhoog, die soliste (instrumentaal en vokaal) langs hom en die koor en orkes na agter op die verhoog te beheer.

Soos in die Barok-uitvoering Viva Vivaldi verlede week, was die ouditorium weer feitlik vol. Dat die konsert gratis was, het seker ’n rol gespeel, maar ’n mens wil glo die mense wat op ’n Sondagmiddag opdaag is daar omdat hulle ’n behoefte aan die musiek het. Hulle is nie teleurgestel nie en het die teater met blye en vervulde harte verlaat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.