Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Gebrek aan respek vir diversiteit inspireer album
Jolyn Phillips Foto: Verskaf
Petronel Baard Foto: Verskaf
Frazer Barry Foto: Verskaf

’n “Gebrek aan respek vir diversiteit” het die musikant Jean Marais oortuig om ’n album te vervaardig waarop uiteenlopende musici saamspan en hul staal wys.

Die idee vir die album, bekend as Diversiteit, is eintlik deur die kunstenaar Riku Lätti voorgestel nadat een van Marais se vorige musiekprojekte oor die skep van bewusmaking oor herwinning, deur die mat geval het.

“Ek was steeds vasberade om ’n gemeenskaplike musiekprojek te loods vir die bewusmaking van ’n kwessie wat ons almal raak,” sê hy.

“Riku het toe die idee vir Diversiteit voorgestel – en dit het perfek in my kraal gepas aangesien die gebrek aan respek vir diversiteit my reeds van vroeg af bekommer.”

Marais, wat blind is, sê kleur as begrip is nie in sy of enige ander visueel gestremde persoon se verwysingsraamwerk nie.

“Dit voel tog vir my asof hierdie begrip se groeperende aard misbruik word om versperrings tussen kulture en etniese groepe te bou. Mense moet besef dat kleur nie tasbaar is nie en dat dit ’n konstruksie van die menslike brein is.”

Dit was daarom belangrik om Diversiteit te maak, sê hy, omdat dit volgens hom bewys hoe musiek ’n “katalisator vir eenheid, begrip en ’n emosionele katarsis” kan wees.

“Hoe meer divers musiekstyle, albums en produksies raak, hoe meer gaan kulturele diffusie begin posvat,” sê Marais, wat ook die eienaar en medevervaardiger van die onderneming Tunes Studio is.

“Die bevryding wat musiek deur ’n emosionele katarsis bring, maak mense ontvanklik vir vernuwing en kan dus help om die knellende bande van stereotipes los te maak.”

Die album snoer nege snitte deur die kunstenaars Bacchus Nel, Charel Kleinhans, Churchil Naudé, Frazer Barry, Jolyn Phillips, Petronel Baard en Soetmelk, Riaan Nieuwenhuis, Riku Lätti en Tuin saam.

Die album ‘Diversiteit’ se omslag.

Dit is nie net die kunstenaars wat divers is nie, sê hy.

Diversiteit trek weg met rymklets vermeng met ’n tradisionele Afrika-ritme, dan beweeg dit aan na ’n rocksnit met gesproke digkuns en melodiese koorgedeeltes.

“Daar word ook akoestiese folkmusiek voorgesit en ’n kragballade lei tot ’n lied wat ’n sterk reggae-inslag het. Dan is daar atmosferiese klanke met ’n jazz-inslag, ’n harde rock-snit met rymklets, poprock én ’n kitaar-en-klavier-duet.”

Marais sê só ’n variasie van kunstenaars en musiek op een album is die rede vir hoekom die grafiese ontwerper Sandy Little ’n albumomslag vir elke liedjie ontwerp het – en al nege omslae in ’n collage op Diversiteit se omslag vervat het.

Die album is reeds uitgereik en kan op digitale musiekplatforms soos Spotify, Google Music en Apple Music gekoop en afgelaai word.

Meer oor:  Musiek  |  Tuin  |  Diversiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.